WAT HET VAN DIE KERK VAN JESUS GEWORD
Stes de Necker
Inleiding
Wanneer die Bybel van die “kerk” praat verwys dit na die Christelike “gemeentes” of “vergaderings” waarna in die Ou- en Nuwe Testamente verwys word. Die woord kerk is afgelei van die Griekse woord “ekklesia” wat “geroepe” beteken.
Wanneer ons egter krities na die kerk van God vandag kyk, dan wonder ʼn mens onwillekeurig of die kerk wat ons vandag ken, dieselfde kerk is wat Jesus, byna 2000 gelede, hier op aarde kom vestig het. Die vraag ontstaan tot watter mate die veranderinge, wat in die kerk van Jesus oor die laaste twee millennia plaasgevind het, werklik Goddelik geïnspireerde aanpassings was wat onder leiding van die Heilige Gees gedoen is, of was daar veranderinge wat bloot as gevolg van sondige ideologieë, kwaadwillige bedoeling, egosentriese selfbelang of selfs politieke opportunisme, plaasgevind het.
In Handelinge 8 word verwys na Simon, die Towenaar van Samaria wat deur Satan gebruik was om die kerk van God te infiltreer en te ondermyn. Die Samaritane het hom selfs as God se verkose verteenwoordiger beskou. Maar in Han. 8 : 22-23 sê Petrus vir hom dat hy hom “in ʼn gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid” bevind.
In 60 n.C. skryf Judas, die broer van Jakobus en Jesus, dat die gelowiges moet stry vir die geloof wat eenmaal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het. In vers 4 sê Judas: “Die rede hiervoor is dat sekere mense ongemerk julle geledere (kerk) binnegedring het, goddelose mense wie se veroordeling lank reeds vas staan. Hulle misbruik die genade van God.” (Woord tussen hakies eie byvoeging)
Ná Judas waarsku Paulus die gemeente in Thessalonika: “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk.” (2 Tess. 2: 7) en 5 jaar later waarsku hy die Korintiërs in 2 Kor. 11: “… omdat julle so maklik daarmee genoeë neem as iemand ʼn ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het…” en verder in verse 13-15 : “Sulke mense is vals profete; hulle gaan oneerlik te werk deur voor te gee dat hulle apostels van Christus is. En geen wonder nie! Satan self doen hom voor as ʼn engel van die lig. Daarom is dit ook nie snaaks dat sy dienaars hulle voordoen as mense wat die wil van God doen nie.”
Aan die einde van die 1e eeu n.C. skryf ʼn bejaarde apostel Johannes dat hy tydens sy bediening te make gehad het met dwaalleringe wat wyer verspreid was as in die dae van Judas en Paulus. In die derde brief van Johannes skryf hy in verse 9 en 10: “Ek het ʼn briefie aan julle gemeente geskrywe, maar Diotrefes, wat danig daarop gesteld is dat hy hulle voorganger is, aanvaar nie ons gesag nie. Daarom sal ek die dinge wat hy doen, ter sprake bring as ek daarheen kom: hy versprei slegte en vals gerugte oor ons; en asof dit nie genoeg is nie, ontvang hy self ook nie die medegelowiges nie, en dié wat dit wil doen belet hy en ban hy uit die gemeente.”
Hierdie aanslae op die kerk van Jesus kon beswaarlik deur die handjie vol apostels en ander oortuigde gelowiges wat op daardie stadium bestaan het, effektief afgeweer word, en verskeie dwaalleringe het onder die gemeentes posgevat.
Die eerste eeu n.C.
Een van die grootste gebeurtenisse in die geskiedenis van die Kerk van Jesus was die verwoesting van die tempel van God in die jaar 70 n.C. Die Romeinse leër het die tempel verwoes, net soos wat Jesus in Sy profetiese rede op die Olyfberg, 40 jaar vroeër voorspel het. Die Israeliete is in ballingskap weggevoer en as slawe in die Romeinse Ryk versprei.
Baie van die dwaalleringe wat voorheen verkondig was, het nou vastrap plek in die kerk gekry. Die Kerk van Jesus het op hierdie stadium grotendeels bestaan uit afstammelinge van die oorspronklik geslag Christene asook bekeerlinge uit die vorige heidendom.
Aan die einde van die eerste eeu n.C. tot en met die begin van die tweede eeu n.C. het die Romeinse vervolging van die Jode in alle erns begin. Drakoniese onderdrukkende wette en belastings is op die Jode afgedwing en enige weerstand daarteen is met uitwissing en geweld beantwoord. Duisende Jode verloor hulle lewens in hierdie tyd.
Tweede eeu n.C.
In die tyd 116 – 126 n.C. begin die Romeinse Kerk om hulle aanbiddings dienste op Sondae te hou en die viering van die jaarlikse Paasfees as ʼn afsonderlike vakansiedag word afgelas. In die plek daarvan word Paasfees nou op Paassondag met Nagmaal gevier. Hierdie gebruik word later bekend as die “Romeinse Pase” of te wel die “Romeinse Pasga” ( Lat. paschalis).
In hierdie tyd ontwikkel die Gnostisisme as intellektuele lewenstyl tot so ʼn mate dat talle nuwe teorieë en dogmatiese leerstellings die lig sien. Die Ou Testamentiese weergawe van die skeppingsgeskiedenis en selfs die aard en wese van die Goddelike natuur word nie gespaar nie. Gnostici verwerp die skeppings geskiedenis en die heidense sienswyse oor die inherente kwaadaardigheid van alle Goddelike skeppinge en die onsterflikheid van die siel, vind beslag in die Romeinse teologie.
Judaïsme word as ʼn sekte beskou wat ten alle koste uitgeroei moes word en die Jode word opnuut die teiken van die Romeinse onverdraagsaamheid met alles en almal wat nie met die Romeinse ideologieë saamgestem het nie. Dit was juis die gnostistiese siening oor die onsterflikheid van die siel en die kwaadaardigheid van alle materiële skeppinge, wat veroorsaak het dat die onvoorwaardelike voldoening aan die Mosaïese wette nie meer as noodsaaklik beskou is nie. Indien ʼn bepaling van die wet as onnodig of onvanpas gevind is, is dit bloot verander of afgeskaf.
In 135 n.C. stel die Romeinse Keiser, Hadrianus, drastiese beperkende wetgewing teen die Jode in en herdoop Jerusalem na “Aelia Capitolina” wat in werklikheid ʼn samestelling van sy eie naam “Aelius” en die Romeinse afgod “Jupiter Capitolina” was. In hierdie tyd word Judaïsme, asook enige sosiale kontak tussen Jode en Christene verbied en selfs met die dood strafbaar gemaak. Onder die leierskap van Biskop Sixtus, distansieer talle sogenaamde Joodse Christene hulleself van die res van die Jode wat nie die teologie van die Romeinse Kerk kon aanvaar nie.
In hierdie tyd tree daar veral twee, 2e eeuse, teoloë na vore, wat ʼn groot rol in die verdere ontwikkeling van die kerk sou speel, naamlik Justinianus (95-167 n.C.) en Irenaeus (130-202 n.C.) Beide hierdie kerkleiers het onder Polycarpus (69-155 n.C. ) studeer. Polycarpus was ʼn groot ondersteuner en dissipel van Johannes en een van die min teoloë wat aan die Joodse geloof getrou gebly het.
Derde eeu n.C.
Aan die begin van die derde eeu n.C. het daar gevolglik twee fundamentele beginsel verskille bestaan tussen die Romeinse Christelike teologie en die tradisionele Joodse geloof wat primêr gegaan het oor (1) die noodsaaklikheid van die voortgesette onderhouding van die Mosaïese wette en (2) oor die siening van wie en wat God is. Die begrip van ʼn Goddelike Drie-eenheid, wat tot op daardie stadium nog nie teologiese inslag gevind het nie, is die eerste keer gebruik deur Tertullianus (150-225 n.C. ), die sogenaamde vader van die Latynse teologie.
Naas Tertullianus, tree daar ook ʼn tweede kerkleier na vore wat ʼn groot invloed sou uitoefen op die voortgesette ontwikkeling van die Christelike kerk, naamlik Origines (185-254 n.C. ) Origines het die teorie van Tertullianus oor die bestaan van ʼn Goddelike Drie-eenheid verder probeer uitbrei met sy eie teorie van “ewige voortplanting”. Volgens hom moes die ewigdurendheid van Jesus, as ʼn essensiële deel van die wese van die Vader gesien word, en as sulks ʼn eenheid met die Vader vorm. Saam met die Heilige Gees, wat vanuit beide die Vader en die Seun uitgaan het, het die Vader en die Seun en die Heilige Gees dus ʼn Goddelike Drie-eenheid gevorm. Origines was ook die vader van die begrip “vagevuur” as ʼn soort “halfweghuis” waar veroordeeldes ʼn tweede kans op bekering en redding sou kry.
In 313 n.C. word die Edik van Milaan uitgereik. Konstantyn II, Keiser van Rome ontsê Jode talle regte en voordele. Jode word nie langer toegelaat om in Jerusalem te woon nie en is verbied om enige mens te oorreed om die Joodse geloof aan te neem. Alle Joodse sendingwerk word verbied. Na die uitreiking van die Edik van Milaan word alle huwelike tussen Christene en Jode verbied (selfs met die dood strafbaar gemaak) en aanneming van die Joodse geloof word ʼn kriminele oortreding.
Onder die bewind van Keiser Konstantyn II word die Christelike geloof (Katolieke geloof) die amptelike geloof van die Romeinse Ryk.
In 325 n.C. vind die sitting van die Eerste Konsilie van Nicéa plaas op aandrang van Keiser Konstantyn II. Alhoewel die gepropageerde doel van die sitting was om ʼn gemeenskaplike standaard vir die verkondiging van die Christelike teologie dwarsdeur die Romeinse Ryk vas te stel, het Konstantyn egter ʼn verskuilde doel met die vergadering gehad, en dit was om Godsdiens te gebruik om die vereniging van sy Ryk en die vestiging van ʼn gemeenskaplike identiteit vir die Romeine te bewerkstellig. Vir hierdie rede het hyself dan ook die voorsitterstoel ingeneem.
Daar word beweer dat Konstantyn met die Konsilie van Nicéa nog nie gedoop was nie en dat hy eers op sy sterfbed, toe hy te swak was om onderdompeling van die doop te ondergaan, deur besprinkeling gedoop is. Laasgenoemde het gelei tot die afskaffing van onderdompeling tydens doop en is vervang met die gebruik van besprinkeling.
In die daaropvolgende besprekings word alle menings wat nie met die sienings van die Romeinse Kerk ooreengekom het nie (met die ondersteuning van die Keiser natuurlik) summier van die tafel afgevee. Die sienings van die Biskoppe van Rome seëvier gevolglik in meeste van die besprekings wat plaasgevind het.
Tydens hierdie sitting word die verskille oor die gebruik van Paasfees vir eens en altyd uit die weggeruim en word die Goddelike Drie-enigheid as amptelik aanvaarde teologie, aangeneem.
Konstantyn, wat voor sy bekering ʼn navolger van die sogenaamde heidense “Sonaanbidders” was, was ook verantwoordelik vir die instelling van die Romeinse “Dag van die Son”, ʼn Romeinse vakansiedag waarop alle besighede en die howe gesluit moes word. As gevolg van sy vorige verbintenis met die heidense Sonaanbidders het die stralekrans, wat vandag nog in die afbeeldings van Christus gebruik word, die kerk binnegekom. Die gebruik van die gekruisigde Christus aan die kruis is ook as gevolg van sy invloed in die kerk ingevoer.
Alhoewel Rome nou die aanskyn van die Christelike geloof gehad het, het Konstantyn stelselmatig begin met die onmenslike afdwinging van die Christelike leerstellings van die Roomse kerk, wat nou bekend gestaan het as die Katolieke Kerk.
As direkte uitvloeisel van Konstantyn se vorige verbondenheid met die “Sonaanbidders”, vaardig hy ʼn edik uit wat “Sondag aanbidding” dwarsdeur die Romeinse Ryk verpligtend maak. Net soos in sy vorige dekreet moes alle besighede en staatsinstansies op Sondae gesluit wees en almal moes op Sondae, rus.
In 363 n.C. vaardig die Sinode van Laodicea die sogenaamde “kanon 29” uit wat Jode verbied om op die Joodse Sabbatdag (M.a.w. Saterdag) te vier, en die Jode word in werklikheid verplig om op Saterdae (Joodse Sabbat) te werk.
Groepe wat nie bereid was om die Roomse leerstellings te eerbiedig nie, is as ketters en vyande van die staat beskou, en meedoënloos vervolg. Die gevolg was dat die Jode wat probeer het om van hierdie vervolging te ontsnap, gedwing was om oor die grense van die Romeinse Ryk te vlug na gebiede soos Armenië en later na die Balkan state van Europa.
Vierde eeu n.C.
In 303-313 n.C. loods Diocletianus, Keiser van Rome, die ergste vervolging van die Jode nog tot op daardie stadium, en Judaïsme word verder uitgedryf tot in Klein-Asië. Alhoewel die Jode reeds honderde kilometers van hulle oorspronklike tuiste of gemeentes verwyderd was, behou hulle steeds die benamings van “die kerk van Efese” en die “kerk van Macedonië”. In hierdie tyd ontstaan daar ook die gebruik van die woord “Paulitane”; Christene wat die leer van Paulus nagevolg het.
Afgesien van die voortgesette vervolging van die Jode, beleef die Katolieke kerk ʼn relatiewe lang tydperk van vrede en konsolidasie tot en met die begin van die Hervorming in die 16e eeu.
Intussen is baie “Paulitane” deur die Bisantynse konings gedwing om in die Balkan te hervestig, om sodoende as eerste linie (skans) teen die Bulgaarse stamme wat op daardie stadium gedreig het om die Balkan binne te val, te dien.
Dit is gedurende hierdie tyd dat die Paulitane in twee hoofgroepe verdeel het naamlik die “Bogomille” en die “Waldense”. In die 10e en 11e eeu n.C. trek die “Bogomille” weswaarts en vestig hulle in Serbië en later in Bosnië. Aan die einde van die 12e eeue n.C. het die Bogomille se invloed sovêr gestrek as Italië en die Suide van Frankryk. Dit was hierdie invloed wat gelei het tot die ontstaan van die Kathare in die suidooste van Frankryk. Intussen het die Waldense na die afgeleë valleie van die Alpe gevlug en hulle daar gevestig.
Gedurende die 13e eeu het afstammelinge van hierdie groep hulle in Bohemië en Duitsland gevestig terwyl ander na gebiede in Middel- en Oos –Europa getrek het. Gedurende die 14e en 15e eeu het die Waldensiese Jode, Holland en Engeland binnegedring.
Aan die einde van die 15e eeu ontstaan die sogenaamde “Sabbattariese Anabaptiste” as ʼn Godsdienstige groep, wat ʼn tiepe vermenging van Joodse en Christelike leer aangehang het. Hierdie benaming het sy ontstaan gehad in die feit dat hierdie groep enersyds volgehou het om die Sabbat op die sewende dag (Saterdag) te gedenk, en andersyds, diegene wat slegs deur besprinkeling gedoop is, nie as Christene erken het nie.
Die Hervorming
Reeds sedert die 12e eeu het die geestelike verval in die Katolieke kerk reeds tot verskeie oproepe vir hervorming gelei. Hierdie ongelukkigheid onder die Katolieke het in die 16e eeu tot so ʼn mate opgebou, dat net die kleinste vonkie tot ʼn grootskaalse uitbarsting sou lei.
Geskiedskrywers is dit eens dat die gebruik in die Katolieke kerk belydenis van sonde te doen en om dan vergifnis en kwytskelding teen betaling te ontvang, sogenaamde “aflaatgeld”, die grootste oorsaak was wat tot die Hervorming gelei het.
Op 31 Oktober 1517 spyker Martin Luther, ʼn Augustynse monnik en dosent aan die Universiteit van Wittenberg, sy bekende 95 stellings van beswaar teen die deur van die Kasteelkerk van Wittenberg, vas. (Die kerkdeure was die plek waar al die belangrike kennisgewings in daardie tyd vasgesit was sodat die mense dit kon lees.)
In hierdie stellings het Luther vir die eerste keer in die openbaar beswaar gemaak teen die finansiële misbruike van die kerk, doktrinêre verdraaiings van die ware leer en godsdienstige misbruike deur die kerk. Hierdie openlike uitdaging van die Katoliek gesag, was al wat nodig was vir die begin van die Protestantse Hervorming.
In Duitsland het die Hervorming spoedig gelei tot die verdeling van die land tussen die hervormingsgesinde “Lutherane” en dié wat getrou gebly het aan die Katolieke Pousdom.
Die Boere-oorlog van Duitsland in 1524, wat allerweë beskou word is as ʼn godsdienstige oorlog, was egter grootliks ʼn stryd tussen die ryk prinse en landhere aan die een kant, en die boerestand, wat die Lutherse leerstellings gebruik het om hulle eie politieke en ekonomiese doelstellings te bevorder. Die 1524 oorlog in Duitsland het finaal die skeiding tussen die hervormers en die Katolieke veroorsaak.
Die hervorming het grootliks daartoe bygedra dat die “Verenigde Nederland” polities in twee verdeel het in wat vandag as Holland en België bekend is. Die noordelike deel, Holland , het grotendeels die Protestantisme nagevolg, terwyl die suide, België, Rooms Katoliek gebly het.
Desnieteenstaande die gewelddadige vervolging van die Nederlandse Protestante deur Karel V, koning van Spanje, onder wie se gesag die Verenigde Nederland op daardie stadium was, groei die Protestantisme, en veral die Calvinisme, steeds, totdat dit uiteindelik onskeidbaar van die Hollanders se strewe na nasionalisme, geword het.
Hierdie strewe lei in 1568 tot die sogenaamde 80jarige oorlog tussen die Protestante, onder aanleiding van Willem I, Prins van Oranje, en die Spaanse magte, onder aanleiding van Filippus II, opvolger en seun van Karel V. In 1648 onderteken die Spanjaarde die Verdrag van Münster waarin die onafhanklikheid van Holland erken is.
Vir die Protestante was hierdie oorwinning ʼn terugkeer na die Bybelse beginsels en verwerping van baie van die Katolieke vorm- en rituele Godsdienstige gebruike.
Vandag bestaan daar nagenoeg 35,000 verskillende Christelike denominasie wêreldwyd.
Aankoms van die Gereformeerde Geloof in Suid Afrika
In 1652 word Jan van Riebeeck in opdrag van die Verenigde Oost-Indiese Kompanjie, na die Kaap gestuur om hier ʼn verversingspos en halfwegstasie op die handelsroete na die Ooste , te vestig. Deel van Riebeeck se opdrag was om sendingwerk onder die heidene te doen. As Gereformeerde, word die gereformeerde kerktradisie in die Kaap gevestig.
Op 18 Augustus 1665 word die eerste Nederduitse Gereformeerde gemeente in Kaapstad gevestig en met die koms van die Franse Hugenote en later die Britse Setlaars, groei die Gereformeerde kerk sodanig, dat daar met die eerste Sinode van 2 November 1824, reeds 14 afsonderlike gemeentes van die kerk bestaan. Met die Groot Trek in 1834-1840 brei die kerk uit tot in die Oranje-Vrystaat, Transvaal en Natal en in 1962 kom die Algemene Sinode van die NG Kerk in Suid Afrika tot stand.
Totstandkoming van die Staat Israel
Aangesien die Engelse nie ʼn oplossing kon vind vir die eeue oue geskil tussen die Jode en die Arabiere nie, handig Engeland in 1947 die problem oor aan die nuut gestigte Verenigde Nasies, om met ʼn plan vir die verdeling van die Palestynse gebied in twee dele, ʼn Joodse en Palestynse gebiede, vorendag te kom. Hierdie plan van die VN- taakspan word gedurende November 1947 deur die VN geratifiseer, met die verstandhouding dat die Britse mandaatskap van Israel op 14 Mei 1948 sal verstryk en dat op daardie datum alle Britse troepe uit Israel onttrek moet wees. Toe die laaste Engelse magte Israel op 14 Mei 1948 verlaat, word die Deklarasie van Onafhanklikheid van Israel, onder leiding van David Ben-Gurion, dieselfde dag nog afgekondig.
Die snelle groei van Sionisme in die tydperk ná Wêreldoorlog II, en die totstandkoming van Israel as ʼn onafhanklike staat, veroorsaak dat talle Jode wat gedurende die oorlog versprei en ontwortel is, in groot getalle terugkeer na Israel .
Vandag is Sionisme, soos wat die Judaïsme vandag bekend staan, weereens diep gevestig en gewortel in die post-moderne Staat van Israel.
Wat het van die kerk van Christus in die Suid Afrika geword ?
Net soos die Jode het die kerk van Jesus die afgelope twee millennia op wonderbaarlike wyse oorleef.
Teen die agtergrond van die voorgaande historiese oorsig, kan die vraag seker met reg gevra word: “Is die Gereformeerde kerke van vandag nog dieselfde kerk wat Jesus, 2000 jaar gelede, hier op aarde kom vestig het?”
Deur die geskiedenis moes die kerk van Jesus gereeld aanpassings maak in die Christelike teologie, ten einde die kerk van algehele uitwissing te red. Met die Hervorming, gryp Christus op wonderbaarlike wyse in om die kerk, wat oor ʼn tydperk van 2000 jaar so te sê vervreemd geraak het van die oorspronklike beeld van die kerk van Christus, terug te bring na die kerk wat Jesus wou hê dit moes wees. Of die Gereformeerde kerkleiers besig is om daarin te slaag om die kerk van Jesus 100% te herstel tot die Nuwe Testamentiese bedoeling daarvan, sal net die tyd ons leer.
Die strewe onder die swart bevolkings groepe van Suid Afrika na ʼn totale Afrosentriese waarde- en norme sisteem, word deur talle blanke Suid Afrikaners vandag gesien as die grootste bedreiging vir die behoud van ʼn eiesoortige Gereformeerde Godsdiens.
Soos in die verlede staan die kerk van Jesus vandag weer by ʼn kruispad in Suid Afrika. Satan saai verwarring en ontmoediging oral in Suid Afrika. Blanke Suid Afrikaners voel dat die vorige Nasionale regering hulle in die steek gelaat het deurdat die Eurosentriese waardes- en norme sisteme wat met die Hervorming herstel en hervestig is, nie genoegsaam in die huidige konstitusionele bedeling in Suid Afrika, verskans en beskerm was nie. Suid Afrika word weereens deur ʼn minderheid regering regeer, behalwe dat dit hierdie keer ʼn godsdienstige, nie-Christelike, minderheid is.
Een van die grootste foute wat die gereformeerde Christendom in Suid Afrika vandag kan maak, is om te vergeet dat die kerk van Jesus, wat Hy 2000 jaar gelede op aarde kom vestig het, nie ʼn fisiese gebou of spesifieke gemeente was nie.
Die kerk van ons Here Jesus Christus, is nie ʼn mensgemaakte organisasie wat onder sekulêre menslike gesag funksioneer nie, maar omvat die totale Christendom wêreldwyd.
Geloof
|
Aanhangers
|
%
|
Aanhangers
|
%
|
2001
|
2007
| |||
Christendom
|
35,750,641
|
79.77
|
29,684,861
|
73.52
|
Ateïste
|
6,767,165
|
15.1
|
3,262,428
|
8.08
|
Ander
|
283,815
|
0.63
| ||
Buddisme
|
12113
|
0.03
| ||
Islam
|
654,064
|
1.46
|
985,460
|
1.45
|
Onoortuig
|
610,974
|
1.36
| ||
Hindu
|
551,668
|
1.23
|
504,707
|
1.25
|
Inheemse gelowe
|
125,898
|
0.28
|
6,056,487
|
15.0
|
Judaïsme
|
75,549
|
0.17
|
68,640
|
0.17
|
Verskillende gelowe in Suid Afrika
Verteenwoordiging van Christene in Suid Afrika
79.9% van die Swart bevolking is Christene, 17.5% het geen geloof, .2% is Muslims en 2.3% behoort aan ander gelowe of is onoortuig.
86.8% van die Wit bevolking is Christene, 8.8% het geen geloof, .2% is Muslims, 1.4% is Judaïsme, 2.7% behoort aan ander gelowe of is onoortuig.
Die rol van kultuurverskille in die kerkgeskiedenis van Suid Afrika
Die ontmoeting tussen die witmens (hoofsaaklik van Europese afkoms) en swartmense (hoofsaaklik van Afrika afkoms) in die vroeë 19e eeu, was ook die begin van die stryd om Christelike eensgesindheid tussen die verskillende kulturele groepe binne Suid Afrika te bewerkstellig.
Met hierdie ontmoeting het twee verskillende en bykans teenoorgestelde groepe kulture, bymekaar uitgekom, wat vir die volgende 170 jaar die grondslag van die politieke, maatskaplike, ekonomiese en godsdienstige ontwikkeling in Suid Afrika sou bepaal.
Toe die Sinode van Dordrecht in 1619 verklaar dat die kerk van Jesus die gemeenskap van die “uitverkorenes” van God is, was hierdie verklaring tot ʼn groot mate die begin van “godsdienstige-apartheid” in die gereformeerde Christelike kerke wêreldwyd. Enige godsdiens wat nie suiwer op die Christelike geloof en belydenis geskoei was nie, moes summier veroordeel en vermy word. Hierdie wanopvatting het veroorsaak dat baie wit Suid Afrikaners vas geglo het dat slegs blankes hemel toe kon gaan!
Met die aankoms van die Gereformeerde geloof in Suid Afrika in 1652, was hierdie siening reeds diep gewortel in die gereformeerde geloofsoortuiging.
Met die stigting van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in 1853 en die Gereformeerde Kerk van Suid Afrika in 1859, was die Calvinistiese siening van die kerk as die gemeenskap van uitverkorenes, steeds fundamenteel in die belydenisse van beide hierdie kerke gevestig. God is die enigste ware God wat ewig, wys en die skepper van die heelal is, en slegs die uitverkorenes van God sal die ewige lewe beërwe solank hulle die leerstellings van die kerk gehoorsaam en eerbiedig,
Teen die jaar 1800 het die druk op die gereformeerde kerke, van binne hulle eie geledere, begin toeneem vir ras gebaseerde segregasie, en hierdie problem is vererger toe swart gelowiges begin aandring het op afsonderlike swart kerke en gemeentes. In 1881 word die NG Sendingkerk, wat hoofsaaklik vir kleurlinge bedoel was, gestig, en in 1910 kom die NG Kerk in Afrika, wat hoofsaaklik vir swart gelowiges bedoel was, tot stand.
Vir die Afrikaans sprekende blanke gereformeerdes het dit in die laat 19e eeu en vroeg 20e eeu primêr om ʼn eiesoortige, blanke (Eurosentriese) oorlewing en selfbehoud in Suid Afrika gegaan. Die primêre doelwit was die behoud van ʼn Eurosentriese waarde en norme sisteem, wat gelei het tot die stigting van die “Zuid-Afrikaansche Republiek” (Transvaal ) in 1852, en die Oranje-Vrystaat Republiek in 1854.
Die aanbreek van die Anglo Boereoorlog in 1899, en die daaropvolgende totstandkoming van die Unie van Suid Afrika in 1910, het die behoefte aan eiesoortige selfbehoud onder die Afrikaanssprekende blankes nog verder laat groei. Suid Afrikaners wat voorheen van boerdery ʼn bestaan gemaak het, was as gevolg van die oorlog verarmd en ongeskoold vir werk in ʼn geïndustrialiseerde omgewing, agtergelaat.
In 1961 kom die Republiek van Suid Afrika tot stand. Weens die getalle oorwig van die swart bevolking, en uit vrees vir ʼn swart oorheersing binne ʼn westerse demokratiese politieke stelsel, besluit die Suid Afrikaanse regering, onder leierskap van Dr. HF Verwoerd, op ʼn stelsel van afsonderlike ontwikkeling, waarin elke eiesoortige gemeenskap, binne sy eie grondgebied, selfstandig en afsonderlik kan ontwikkel. Ten einde hierdie model te implementeer word ʼn verskeidenheid “tuislande” geskep waarbinne die verskillende gemeenskappe geakkommodeer kon word.
Een van die groot gevolge van hierdie beleid was dat die godsdienstige ideologie en politieke ideologie so vermeng geraak het, dat politiek en godsdiens later so verstrengel geraak het dat dit nouliks van mekaar geskei kon word.
Die afsondering en marginalisering van swart mense was die hoof oorsaak dat na 1960, die ontwaking van ʼn Afrosentriese maatskaplike model onder swart Suid Afrikaners groter momentum laat kry het en die ANC word die amptelike verteenwoordiger van prakties alle swart mense in die stryd om politieke selfbehoud.
ʼn Belangrike aspek wat dikwels uit die oog verloor word, is die feit dat die swart mense van Suid Afrika nie net uit een homogene groep bestaan nie. Een van die talle gevolge van die Nasionale regering se apartheids beleid was juis dat dit die gemarginaliseerde bevolkings groepe, naamlik Swartes, Kleurlinge en Indiërs, in een verenigde front gedwing het. (Destyds bekend as die “United Democratic Front”)
In die sewentiger en tagtiger jare van die vorige eeu, toe die druk teen die apartheidsbeleid, van binne én buite Suid Afrika, op sy hewigste was, was die gereformeerde susters kerke van die grootste struikelblokke in die soeke na ʼn gemeenskaplike aanvaarbare oplossing vir die politieke probleme van Suid Afrika. Baie gereformeerde predikante het die regering ondersteun, maar daar was net so baie wat ʼn geïntegreerde politieke bedeling vir Suid Afrika teengestaan het. Hierdie onderlinge twis was die groot oorsaak dat mense soos Ds. Beyers Naude, ʼn voormalige NG predikant, uit die bediening getree het en by ʼn swart gemeente aangesluit het.
In 1990 het selfs die Katolieke Kerk teen integrasie op skoolvlak betoog toe die “South African Catholic Defence League” gestig is om teen politieke inmenging deur die Kerk beswaar te maak.
Een van die sterkste swart-godsdiens bewegings wat heftig teen die beleid van apartheid gekant was, was die Suid Afrikaanse Raad van Kerke, wat onder leiding van Aartsbiskop Desmond Tutu, verskeie vreedsame protes optogte gelei het waartydens menige petisies aan die regering oorhandig is.
Na die verkiesing van 1994, toe die ANC die verkiesing gewen en die regering van die land oorgeneem het, bevind die blankes van Suid Afrika hulle nie net in ʼn predisposisie met betrekking tot hulle politieke identiteit nie, maar is hulle ook bekommerd dat die proses van algehele integrasie hulle ook van hulle gereformeerde identiteit, sal ontneem.
Die grootste tragedie wat as gevolg van hierdie stryd teen, aan die een kant, die behoud van eie identiteit (aan beide kante) en aan die ander kant algehele integrasie bestaan, kon die kloof van verdeeldheid tussen wit en swart in Suid Afrika nog nooit vernou word nie.
Agterdog aan weerskante van die kleur skeiding bly nog steeds een van die grootste struikelblokke vir wedersydse aanvaarding. Alhoewel skole in Suid Afrika tans groot vordering maak met die uitroeiing van hierdie probleem, leef die probleem by die ouer geslag Wit- en Swartmense, wat onder die euwel van apartheid geleer en grootgeword, steeds voort. Dit is juis die ouer geslag, wit en swart, wat nié daarin kon slaag om hulle Westerse en Afrika gewoontes met mekaar te versoen nie, met die gevolg dat, binne die huislike verband word die historiese verskille nog steeds voortgeplant.
Die uitdaging vir die opinie- en beleidsvormers in Suid Afrika vandag is om ʼn gemeenskaplik aanvaarde (kollektiewe) waardesisteem te vind wat voorsiening kan maak vir “eenheid in diversiteit”. Amerika is ʼn goeie voorbeeld hiervan, waar groepe van verskillende en uiteenlopende identiteit, vreedsaam en ongehinderd met mekaar saamleef, maar wat nog steeds trots is op hulle gemeenskaplike Amerikaanse identiteit.
Suid Afrika is ʼn land van minderhede en daar bestaan geen enkele groepering wat hulleself tot verteenwoordigers van ʼn ander kan of mag verhef nie. Die huidige regering is in werklikheid ook ʼn minderheid regering as lidmaatskap van die Christendom as kriteria gebruik word. Dit hang gevolglik bloot af wat die kriteria is wat gebruik word om verteenwoordiging teen te meet. Die vraag kan sekerlik gevra word: “Wie is nou eintlik die Afrikanis wat oor ʼn alleen mandaat vir “regeerder” beskik?”
Matt. 22: 37- 40
“Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat”
Het jy geweet dat:
In die Westerse gebruik:
|
In die Swart gebruik:
|
1. Die mindere die meerdere eerste groet
|
1. Die mindere nie praat voordat die meerdere hom/haar toestemming gegee het om te praat nie.
|
2. Die meerdere se kop
|
2. ʼn Mindere se kop mag nooit hoër wees as die van die meerdere
|
3. Die mindere mag nie sit voordat die meerdere hom/haar toestemming gegee het om te sit nie
|
3. Die mindere sal van nature gaan sit wanneer die meerdere ook sit, want sy/haar kop (hoof) mag nie hoër wees as die van die meerdere nie
|
4. ʼn Vrou word altyd die geleentheid gegee om eerste by ʼn deur in te gaan. ʼn Motor se deur word eerste vir ʼn vrou oopgemaak.
|
4. ʼn Man sal voor ʼn vrou by ʼn deur ingaan om aan te toon dat hy haar agter sy rug vertrou. In sekere gemeenskappe moet die man voor loop ten einde enige verskuilde gevare die hoof te bied.
|
5. Mans staan wanneer daar gebid word
|
5. Mans en vrouens moet hulle so laag as moontlik op die grond neerbuig
|
6. Mense wat hard praat word as ongemanierd beskou
|
6. Mense wat sag praat word gesien dat hulle van iemand skinder en andere dit nie mag hoor nie
|
7. Wanneer ʼn meerdere ʼn mindere aanspreek moet die mindere die meerdere in die oë kyk.
|
7. Wanneer ʼn mindere aangespreek word, mag die mindere die meerdere nie in die oë kyk nie want dit is ʼn teken van aggressie
|
8. ʼn Mindere word selde die geleentheid gegun om sy/haar kant van ʼn saak te verduidelik
|
8. ʼn Mindere word altyd die geleentheid gegun om sy/haar kant van ʼn saak te verduidelik
|
9. Wanner jy ʼn meerdere op kantoor besoek klop jy aan die deur, wag om ingenooi te word en wag om toestemming te kry om te gaan sit
|
9. Wanneer jy ʼn meerdere op kantoor besoek, maak jy die deur stilletjies oop, gaan in, gaan sit, en wag vir die meerdere om jou raak te sien en te groet wanneer dit die meerdere pas
|
10. Wanneer jy iemand met die hand groet, dan doen jy dit met ʼn stewige en ferm handdruk.
|
10. Wanneer jy iemand met die hand groet en hard druk, dui dit op aggressie. ʼn Sagte handdruk dui onderdanigheid en nederigheid aan.
|
11.
|
11. Iemand wat bloot op sy/haar van aangespreek word, beskou dit as respek vir sy/haar herkoms
|
12. Die mindere moet gewoonlik die meerdere eerste groet
|
12. Die persoon wat ná ʼn ander by ʼn plek opdaag (2e opdaag) moet eerste groet
|
Die beste waarborg vir ernstige misverstand en konflik wat jy seker
Ontleed self die volgende scenario aan die hand van die voorgenoemde gebruike.
Die vrae wat jy vir jouself moet beantwoord is: (1) Wat het die huishulp hiermee bedoel? … en (2), wat het die huiseienaar hiermee verstaan?
Om jou met die ontleding te help, het ek die verskillende gedeeltes van die storie waarna jy spesifiek moet oplet onderstreep.
Scenario:
ʼn Sekere huiseienaar, ʼn wit man, het die betrokke oggend met die verkeerde voet uit die bed uit opgestaan en sit in sy studeerkamer agter sy lessenaar en koffie drink.
Die huishulp, ʼn swart vrou, daag laat by die werk op en, sonder om te klop (1), kom sy die studeerkamer binne en sê nie ʼn woord nie (2). Sy gaan sit op die vloer (3) langs die deur en kyk die hele tyd na die mat (4) onder haar.
“Waar die hel kom jy nou vandaan en wie het vir jou gesê jy kan sommer in my kantoor inkom ?!”
Sonder om na die man te kyk (5) wil sy nog probeer antwoord (6), toe dié alreeds verder gaan met sy uitbarsting: “En nou gaan jy seker ook weer vir my sê die bus was laat!”
Intussen het die man agter sy lessenaar opgestaan en gluur na die huishulp waar sy steeds op die vloer sit. (7)
Toe sy wéér ʼn keer probeer antwoord terwyl sy na iets teen die muur agter die man kyk (8), word haar poging begroet met: “Staan op man, jy sit nie as jy met my praat nie!”
“Maar meneer ….”
“Hoekom kan julle ʼn mens nooit in die oë kyk nie en gin’ nikse meneer met jou nie; lóóp en gaan doen jou werk!”
Klink dit vir jou bekend of was jy self al skuldig hieraan ?
No comments:
Post a Comment