Tuesday, April 28, 2015

GESLAGREGISTERS VAN DIE OU TESTAMENT - HET DIE GESLAGREGISTERS VAN DIE OU TESTAMENT VIR ONS NOG ENIGE BETEKENIS





GESLAGREGISTERS VAN DIE
OU TESTAMENT

HET DIE GESLAGREGISTERS VAN DIE OU TESTAMENT VIR ONS NOG ENIGE BETEKENIS


                                                                                                 Stes de Necker





Inleiding

Die Pentateug, bevat ʼn hele aantal geslagsregisters, versprei oor al vyf dié boeke. ʼn Mens wonder onwillekeurig wat die rede sou wees hoekom die skrywers van die Pentateug soveel aandag sou afstaan om hierdie geslagsregisters in soveel detail in hierdie boeke te beskryf.

Wat met die eerste oog opslag na ʼn versameling onnodige name en besonderhede lyk, verander spoedig in ʼn fassinerende en betekenisvolle agtergrond wanneer hierdie inligting stelselmatig uiteengesit word om ʼn geheel beeld te vorm.

Dit is amper asof ons te doen het met ʼn kolossale literêre legkaart waarin elke naam, stam en familie ʼn blokkie van dieselfde legkaart is.

Wanneer al hierdie stukkies logies en stelselmatig aanmekaar geheg is, lyk die legkaart soos volg:











Volgens bostaande uiteensetting kan die stamvaders en hulle nasate in drie “groeperinge” verdeel word naamlik:

1. Die geslagte na Adam tot en met Tera, die vader van Abraham.
2. Die geslagte vanaf Abraham, tot en met Jakob, (Israel).
3. Die geslagte vanaf Jakob tot en met die geboorte van Jesus Christus.

Met betrekking tot die eerste groep stamvaders en hulle nasate (Van Adam tot Tera), het die skrywers van die Pentateug slegs enkele families geselekteer wat in besonderhede beskryf word, naamlik die van: Adam, Set, Noag, Sem, Peleg en Tera.

Die nasate en families van die stamvaders van die volk Israel, Abraham, Isak en Jakob, word volledig beskryf, terwyl daar geen volledige geslag registers van die stamvaders vanaf Arnie tot en met Eli, die vader van Josef (Jesus se pa), aangedui word nie.

Betekenis van hierdie beskouing

1. Die Israeliete – Eerstelinge onder die Mosaïese wet

Die Ou Testament vorm die agtergrond waarteen die Nuwe Testament gelees en verstaan moet word.

In Galasiërs 3: 17 skryf Paulus: “Hiermee wil ek dit sê: God het ʼn verbond met Abraham gesluit en dit tóé al geldig gemaak. Die wet, wat eers vier honderd en dertig jaar later gekom het, kan nie hierdie verbond ongeldig maak sodat God se belofte aan Abraham nie meer sou geld nie.” (Eie onderstreping) 

Normaalweg tree ʼn testament eers inwerking met die afsterwe van die testateur, maar in Galasiers skryf Paulus dat God Sy testament toe al geldig gemaak het.

Verder in Galasiërs 3: 24 skryf hy: “Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word.”

In "Die uittog van die Israeliete uit Egipte" verwys ek na die bevinding dat die uittog plaasgevind het in die jaar 1445 v.C.

Die “Wet” (Die Tien Gebooie), wat Moses op die berg Sinai van God ontvang het, was kort na die begin van die uittog, wat in total veertig jaar geduur het.

Aangesien die uittog dus plaasgevind het 1445 jaar v.C., beteken dit dat die Israeliete, voor die koms van Jesus, vir 1445 jaar onder die toesig van die wet moes leef

Enigeen wat al die Pentateug aandagtig deurgelees het, en meer spesifiek Levitikus,  sal besef hoe moeilik dit vir enige mens van daardie tyd moes wees om elke dag ál die voorskrifte van die Mosaïese wet, stiptelik na te kom.

Die Jode probeer dit al vir 3,500 jaar, en hulle kry dit nou nog nie reg nie!

2. Juda – Die Uitverkore Stam

Saul was die eerste koning van Israel en het regeer vanaf 1020 tot 1000 v.C. Na die dood van Saul is Israel verdeel in die noordelike en suidelike koninkryke, en Dawid het koning geword van die suidelike koninkryk, Juda.

Ishbaal was die koning van die noordelike koninkryk, Israel. In 994 v.C. is die koninkryke verenig en Dawid het koning geword van die verenigde koninkryk van Juda en Israel.

Na Dawid het Salomo koning van die verenigde Israel geword in 960 v.C.

Na Salomo se dood in 931 v.C. is Israel weer verdeel in die twee oorspronklike koninkryke, en Rehabeam het koning geword van Juda, die suidelike koninkryk. Jerobeam het koning geword van die noordelike koninkryk , Israel.

Saul, uit die nageslag van Jakob, was die eerste koning van (tóé nog) ʼn verenigde Israel (1020 – 1000 v.C.) wat onder die wet van God regeer het. Dawid, wat na Saul koning geword het, is in 993 v.C. as eerste koning van die suidelike koninkryk Juda gesalf. In dieselfde jaar is Jerobeam as eerste koning van die noordelike koninkryk Israel gesalf.

Dawid, vir wie God lief gehad het, was die eerste koning van die koninkryk van Juda wat onder die wet van God regeer het.

Jesus is die eerste (en enigste) Koning wat oor die genade verbond regeer!

God het dit van die begin af so bestem dat die grootste koning van alle tye, Jesus Christus, uit die nageslag van Jakob, en meer spesifiek uit die stam Juda, die eerste Koning van die genadeverbond sou wees.

Israel was die uitverkore volk en Juda, die uitverkore stam van God!

Teen hierdie agtergrond gesien maak dit volkome sin dat die skrywers van die Pentateug die geslagsregisters van Abraham, Isak en Jakob in soveel besonderhede uiteensit, want vanuit een van hierdie families sou Jesus Christus gebore word.

3. Grondslag vir die profete van die Ou Testament

Jesaja, wat volgens die Bybel gedurende die tydperk 740 tot 690 v.C. geleef het, sê in Jesaja 7: 14: “…..ʼn jong vrou sal swanger word en ʼn seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.”

In Matteus 2: 6, skryf die apostel oor die profete van die verlede wat gesê het: “En jy, Bethlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ʼn leier voortkom wat vir my volk Israel ʼn herder sal wees.”

Die periode 740 – 690 v.C. sou beteken dat Jesaja geleef het tydens die bestaan van Josua, seun van Eliëser, m.a.w. 15 geslagte na Dawid.

Met hulle kennis van die geskiedenis, en onder die leiding van God, kon die profete van die Ou Testament met gesag profeteer oor die Messias wat sou kom.

4. Bevestiging van die tydperke van die Uittog uit Egipte asook die tyd van die Rigters.
  
Volgens 1 Konings 6: 1, het die bouwerk aan die tempel begin 4 jaar nadat Salomo koning geword het (960 v.C.) en dit was 480 jaar nadat die uittog uit Egipte begin het. Die uittog het in die jaar 1440 v.C. begin het en in 1400 v.C. geëindig het. Hierdie berekening stem 100% saam met die Afrikaanse Verklarende Bybel wat die uittog beraam op nagenoeg 1450 tot 1230 v.C. asook die werk van Sir Charles Marston in hierdie verband. 
Die jaar 1445 v.C. bevestig ook dat die uittog uit Egipte plaasgevind het tydens die derde regeringsjaar van farao Amenhotep II, m.a.w. 1445 v.C.

Volgens Paulus (Handelinge 13: 20) het die tydperk van die Rigters “omtrent” 450 jaar geduur, terwyl daar in 1 Konings 6:1, verwys word na die tydperk “Vier honderd en tagtig jaar nadat die Israeliete uit Egipte getrek het, vier jaar nadat Salomo koning van Israel geword het, het hy begin bou aan die tempel van die Here.” Laasgenoemde bevestig dan ook die feit dat die tydperk van die Rigters nagenoeg 445 jaar geduur het. (Seker naby genoeg aan “omtrent” 450! )
Slot
Selfs die insluiting van die (oënskynlike) betekenislose klomp geslagsregisters in die Ou Testament, bevestig maar net weereens dat die Bybel die enigste ware en betroubare woord van God is, en die moeite werd is om ten volle aangeneem te word.
Nog nooit in die geskiedenis van die mensdom was daar ʼn boek wat so lank terug geskryf is, en waarvan die waarheid en betroubaarheid daarvan bykans daagliks meer en meer bevestig word nie.

No comments:

Post a Comment