Tuesday, April 28, 2015

DIE KERK - Tempels of Teaters




DIE KERK 


Tempels of Teaters


Stes de Necker






In ’n vorige artikel het ek verwys na veranderinge en die kerk en daarin het ek gesê dat verandering en vernuwing binne die Gereformeerde Susters-kerke behoort 'n voortdurende proses te wees, maar dan moet dit altyd daarom gaan om 'n beter en heiliger Kerk vir Jesus te wees. Verandering behoort nooit gemeet te word aan die populariteit of die aandrang van mense daarvoor nie, maar aan die getrouheid en gebondenheid aan die Woord van God. Verandering moet altyd geanker wees in die onveranderlike boodskap van die Bybel en nie oorgelaat te word aan die voor- en afkeure van mense nie.

Enige verandering of vernuwing binne die Kerk van Jesus, moet altyd aan hierdie beginsel getoets word: Is die verandering (of vernuwing) vir God aanvaarbaar?  Nie vir die gemeente of die samelewing waarbinne ons leef nie, maar vir God.

Ongelukkig vind ons dat daar in baie van ons gereformeerde kerke vandag ’n neiging bestaan dat die kern boodskap van die Bybel oorheers word deur sosiale en maatskaplike maatstawwe van buite. Preke word dikwels verwoord tot spitsvondige opmerkings en onvanpaste grappe en wanneer die preek verder nog met ’n paar vloekwoorde en obskure uitlatings aangevul word, verander die erediens dikwels in ’n soort sosiale samekoms waarin die eerbied en respek vir die teenwoordigheid van God in die erediens maklik vergeet kan word.

Ons Here Jesus het self gesê: “Waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.” (Matt. 18:20) Ek het al so baie gewonder wat sou gebeur as ons die Here Jesus fisies, sigbaar, saam met ons in die erediens kon waarneem. Hoe sou ons reageer? Hoe sou die erediens verloop? Hoe sou die leraar en die kerkgangers optree? En tog is Jesus wel teenwoordig. God is self daar! By ons; in ons; óm ons. Ons kan Hom net nie fisies waarneem nie.

Deesdae maak baie van ons kerke gebruik van elektroniese hulpmiddels soos interaktiewe inligting skerms, gesofistikeerde klankstelsels, rekenaar monitors ens.  Op die gevaar af om as outyds en konserwatief bestempel te word, bly die vraag egter of al hierdie nuwe gebruike enigsins waarde tot die erediens toevoeg. Terwyl daar in wese niks verkeerd is met die aanwending van hierdie hulpmiddels nie, moet daar ernstig gewaak word dat die onoordeelkundige gebruik daarvan nie die unieke aard en wese van die preek reduseer tot ’n akademiese teologiese lesing of referaat waarin die Skrifuitleg met behulp van televisie monitors en oorhoofse projektors pragtig professioneel uiteengesit word, maar in werklikheid niks vir ons daaglikse geestelike behoeftes beteken nie. Dikwels word die spontaniteit en emosionele karakter van ’n preek oorwoeker deur grafiese voorstellings en uiteensettings wat harder spreek as die teks of kern boodskap van die preek.

Selfs die hedendaagse neiging om al meer gebruik te maak van orkeste tydens die erediens, vind by baie van die ouer kerk lidmate moeilik byval. Die vraag kan seker tereg gevra word hoekom die tradisionele kerkorrel nie meer voldoende is om die musikale begeleiding te doen nie. Sekerlik een van die mees indrukwekkendste instrumente wat ooit ontwerp is, moet vervang word met die rasperagtige klanke van die elektriese instrumente van ’n “rock” orkes. Om van die oorverdowende geraas nie eens te praat nie!

Maar weereens moet ek my haas om by te voeg dat die aanwending van hierdie middele nie noodwendig verkeerd is, of soos sommige dit wil hê, “van die duiwel” is nie. Dit gaan bloot oor die rol en plek wat hierdie middele binne ’n erediens vertolk. Met ander woorde, dra die gebruik hiervan enigsins by tot die gewyde karakter en atmosfeer van ʼn erediens, of word die erediens eerder daardeur tot ’n soort teater gerelegeer.  

Ek het in ’n vorige artikel gesê dat die Kerk van Jesus sedert sy ontstaan aan veranderinge blootgestel was. In die Nuwe Testament lees ons dikwels van die veranderinge wat daar, reeds sedert die eerste eeu na Christus, in die Kerk plaasgevind het. Desnieteenstaande al die veranderinge het die kerk, in sy wese, nog altyd kerk gebly.  

Bedienings style, kleredrag, sang, musikale begeleiding, die gebruik van tegnologiese hulpmiddele in die erediens en selfs aanpassings in die liturgie, (verloop van die erediens) moet altyd aanpas by die onveranderlike waardes en kern-begrippe van die Bybel. Die resultaat van verandering en vernuwing binne die Kerk moet nooit gemeet word in terme van bywoning getalle van lidmate of die uitslae van mensgemaakte opnames of sosiologiese navorsing nie. Die resultaat van suksesvolle verandering moet in die eerste instansie gemeet word aan elke lidmaat se opregtheid van geloof en sy/haar gebondenheid en getrouheid aan die Woord van God.

Die Kerk is in die eerste instansie 'n geloofsinstelling waar medegelowiges met mekaar en met God verbind word deur die soen verdienste van ons Here Jesus Christus. Medegelowiges wat saamkom om na die Woord van God te luister en om, as gemeentes, God te dien en te aanbid rondom die suiwere bediening van die Woord.

Die kerk is nie ’n teater wat ’n bepaalde aanbieding of produksie steil, bloot ter wille van populariteit, hoef na te streef nie. Te dikwels sien ons gemeentes wat maar te gretig is om bloot ter wille van bywoning-getalle, die tradisionele liturgie voortdurend te wysig net om by die populêre lewensbeskouinge van die oomblik aan te pas.

Ons glo en bely dat God self Sy kerk onderhou. Hy het alles aan Jesus Christus onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel het as hoof van die kerk. (Efe. 1:22) en verder in Matt. 16:18 staan daar: En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” 

Die kerk, wat ook as die mees behoudende instellings binne n bepaalde samelewing gesien moet word, hoef nie elke keer as die gemeente vra vir verandering, te spring om aan die gemeente se versoek te voldoen nie. God is in beheer. Jesus self is hoof van die kerk. Niks sal gebeur wat nie die goedkeuring van Jesus dra nie, 

Verandering en vernuwing binne die Gereformeerde Kerke is nodig, maar dan moet dit altyd daar omgaan om 'n beter en heiliger Kerk, geanker in die onveranderlike boodskap van die Bybel, te wees, eerder as om van die kerk een of ander vermaaklikheid teater te probeer maak.

Daar is op die oomblik weer n nasionale debat oor die rol en plek van die kerk in die hedendaagse samelewing, aan die gang. Vrae soos:  "Is die kerk nog relevant in vandag se samelewing? Het die kerk nog n rol te speel in vandag se lewe?" ens. is aan die orde van die dag, en vra jy die debatteerders wat nou eintlik veroorsaak het dat almal eensklaps so bekommerd oor die kerk se rol en relevansie geraak het, dan  hoor jy vinnig dat: "Die bywoning getalle van gemeentes is dan besig is om te daal!"

Kwantitatiewe norme het belangriker as kwalitatiewe norme geword. Die kerk se relevansie word bloot aan bywoning getalle gemeet.

Liewe vriend en vriendin, God meet nie die kerk se sukses aan sy lidmaat-getalle nie. God meet die kerk aan die getal opregte gelowiges wat rondom die Bybel bymekaar kom om God te loof en te aanbid.

n Kerk met n honderd opregte gelowige lidmate, is voor God honderd maal meer Kerk van God, as die een met tien duisend vermaaklikheid soekers daarin.

Bywoning getalle tel nie punte op God se "scoreboard" nie! 
  


No comments:

Post a Comment