Tuesday, June 2, 2015

VERSOEKING EN BEPROEWING




VERSOEKING EN BEPROEWING


                                                                                               Stes de Necker


Inleiding

Wanneer ons dieper in die Bybel delf om duidelikheid te probeer kry oor sekere kernwaarhede daarin, is dit soms nodig dat ons begin deur eers te kyk en seker te maak wat in die oorspronklike Bybelse manuskripte geskryf is.

Anders as met ander onderwerpe wat ek al bespreek het, het ek dit goedgedink om oor hierdie onderwerp die ou vertaling van die Bybel as grondslag te gebruik.

In die ou vertaling (1953), word die woord “versoeking” gevind in die volgende tekste van die Bybel:
Deut. 4:34; 7:19; 29:3; Luk. 22:28; 4:13; 8:13; 11:4; 22:40; 22:46; Matt. 6:13; 26:41; Mark. 14:38; Luk.; 1 Kor. 7:5; 10:13; 1 Tt 6:9; Heb. 2:18; 3:8; Jak. 1:12,13 en 2 Pet. 2: 9.

Die woord “beproewing” word gevind in:
Deut. 8:2;  Hand. 20:19; 2 Kor. 8:2; Gal. 4:14; 1 Pet. 1:6; 4:12 en  Op. 3:10

In beide die Griekse en Hebreeuse vertalings van die Bybel, word daar nie werklik 'n onderskeid getref tussen hierdie twee begrippe nie. Al die woorde wat in hierdie vertalings voorkom beteken almal “toets”.

In Deuteronomium 8: 2 en Deut. 4: 34, waarna hierbo verwys is, word die woorde “Nâsâh”  en “massâh”,  respektiewelik gebruik, wat beide “toets” beteken.

In die Griekse Bybel, in 1 Pet. 1: 6 en Jak. 1: 2, word die woord  “Peirasmos”  gebruik, terwyl in Jak. 1: 3, die woord “Dokimion” , gebruik word. Beide hierdie woorde beteken ook “toets”.

In die ou vertaling, en dit is hoekom ek dit gekies het as verwysings bron, word die Griekse woord Peirasmos” in 1 Pet. 1: 6 vertaal met “beproewing”, terwyl dieselfde woord (Peirasmos) in Jak. 1: 2 vertaal word met “versoeking”.

So vind ons ook dat die woord “nâsâh”  in Eks. 17: 2 en 7 met "versoek" vertaal word, en in Eks. 15: 25 met "beproef".  Almal beteken weereens "toets" of "uitprobeer."  In Jak. 1: 12 word die woord “peirasmos”  egter wel vertaal met “toets".

Bostaande is maar net ter illustrasie dat sekere Bybelse begrippe in die proses van vertaling, verander, sodat dit wat ons vandag in die Bybel lees en verstaan, nie noodwendig die oorspronklike bedoeling van die outeur was nie.

Daarom is dit so belangrik dat enigeen wat een of ander teorie aan 'n Bybelse uitspraak wil koppel, baie seker moet maak dat hy/sy so 'n teorie op die korrekte bedoeling van die Bybel, sal baseer.
Vir doeleindes van ons bespreking van "beproewing" en "versoeking" wil dit dus voorkom dat volgens die oorspronklike teks van die Bybel, ons wel te doen het met een of ander vorm van toetsing. 

Om 'n duidelike onderskeid tussen die begrip “versoeking” en “beproewing” vir onsself te kry, is dit nodig dat ons eers kyk na wat met beide hierdie begrippe in ons huidige vertaling van die Bybel bedoel word.

Versoeking.

Versoeking, in die Bybelse betekenis van die woord, beteken om versoek te word om sonde te doen. Wanneer God sê dat Hy nie sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie (1 Kor. 10:13), dan beteken dit dat ons altyd die vermoë sal hê het om weerstand te bied teen die toegee aan die versoeking; Sonde doen. Dit beteken ook dat ons nooit die verskoning kan gebruik dat ons nie anders kon as om aan die versoeking toe te gee nie.

Dit is belangrik dat ons van die begin af moet weet dat God ons nie in versoeking sal bring nie. God toets Sy kinders op baie maniere, maar Hy bring ons nooit in die versoeking nie.

Vir Jesus was hierdie feit so belangrik, dat Hy ons geleer het om te bid: “en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.” (Matt. 6: 13) Die ou vertaling het gesê: “en lei ons nie in die versoeking ...”

Jesus verstaan ons versoekings, want Hy was ook versoek. (Matt. 4)

Wanneer ons dan bid dat ons Hemelse Vader ons nie in die versoeking moet laat kom nie, maar ons van die bose sal verlos, dan beteken dit bloot eenvoudig dat ons Jesus vra om ons te help om nie aan enige versoeking toe te gee  nie.

Om versoeking te ervaar, of om versoek te word, kan verseker nie ʼn sonde wees nie! Dit is die bepaalde keuses wat ons maak wanneer ons op versoeking reageer, wat tot sonde lei. Met ander woorde as ons sou toegee aan die versoeking.

Die realiteit van versoeking is eintlik net ‘n aanduiding van die feit dat ons morele wesens is (ons beskik oor n morele gewete) wat kan kies tussen reg en verkeerd. As ons nooit versoeking sou ervaar het nie, dan sou ons ook nooit in staat gewees het om tussen reg en verkeerd te onderskei en te kies nie.

Beproewing

Beproewing is egter ʼn ander saak. Een van die dinge wat God wil hê is dat ons geestelik volwasse moet word. God beskerm ons nie altyd teen die slegte dinge van die lewe nie, maar dikwels laat Hy doelbewus toe dat sulke dinge oor ons pad kom omdat Hy weet dat dit die potensiaal het om ons tot groter volwassenheid te bring.

Wanneer ons bely dat ons in afhanklikheid van God leef, dan verwag God ook dat ons in alle situasie afhanklik van Hom sal bly en verantwoordelik sal optree. Dit is juis dan wanneer ons geloof in God versterk word en die karakter van Jesus in ons gekweek word. (Jak. 1: 2-4, 1 Pet. 1: 6-7, Rom. 5: 3-5).

In Jak. 1: 2-4 sê Jakobus ons: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”

Om bly te wees selfs in tye as daar groot beproewinge oor ons kom, klink seker vir die meeste van ons nie alleen na 'n ernstige teenstrydigheid in die Bybel nie, maar selfs 'n onmoontlikheid!

Ernstige beproewing is allermins ʼn grap en daarom beteken die term “bly wees”  verseker nie dat ons moet lag en vrolik wees nie.

“Bly wees” in die konteks waaroor Jakobus daaroor skryf, beteken dat ons ʼn diepe waardering sal hê vir die feit dat God, selfs in ons diepste beproewing, nog altyd ons anker en vertroosting sal wees.

In 1 Pet. 4: 12-13 sê Petrus: “Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Dit is nie iets vreemds wat met julle gebeur nie. (13) Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by Sy wederkoms in heerlikheid.”

As die Here beproewinge in ons lewe bring, doen Hy dit met groot liefde. Hy ken ons. Hy wil ons bruikbaar maak, nie vernietig nie.

Paulus was in staat om te juig te midde van al sy beproewings want hy het geweet dat sy swaarkry tot ander se voordeel is. Hy het sy beproewings gesien as ʼn soort skoling wat hy moes deurgaan. Hy kon sê: "God het ʼn plan met alles, want Hy is besig om my op te lei! Daar sal mense wees wat my invloed nodig het. Hulle sal my troos en bemoediging, wat ek ook ontvang het gedurende my swaarkry, nodig hê!"

God gebruik ons, deur ons swaarkry en beproewing, om aan andere oor Sy goedheid en genade te getuig. Uit ons eie ervaring kan ons eerstehands vir ander van God se genade en liefde in tye van swaarkry getuig.

Kom ons wees eerlik: Wanneer ons regtig seer het, wanneer ons hartseer is of  wanneer ons pyn van verlange na ʼn gemisde geliefde, wil ons nie ʼn boek lees oor die tien stappe vir oorwinning nie! Ons soek nie een of ander pastorale sielkundige se raad nie en ook nie ʼn predikant wat vir ons uit die Bybel voorlees nie. Geeneen van hierdie is op daardie stadium vir ons die antwoord nie, want nie een daarvan sal by die wortel van ons smart uitkom nie. 
Moet ook nooit skuldig daaroor voel as dit is wat jy op daardie stadium voel nie. God weet hoe jy voel! Hy weet ook wat jy dink. God weet dat ons in sulke tye behoefte het aan iemand dood gewoon, iemand soos ek en jy, wat al deur daardie vuur kroes moes gaan en wat anderkant getroos en gelowig uitgekom het, terwyl hy/sy God loof en prys.

Dit is dan wanneer ons iemand soek wat weet wat eensaamheid is; wat hartseer is; wat smart is; wat verwerping en pyn is. Dan soek ons iemand wat ook al op die punt gekom het om op te gee, maar nogtans op God vertrou het en juigend, vol geloof en sterkerder as ooit, anderkant uitgekom het. Dáárdie persoon is die ware deskundige!

In hierdie lewe sál jy deur ernstige beproewings gaan en sál jy talle versoekings moet trotseer, maar weet een ding verseker: God sal altyd by jou wees. Vertrou op Hom en jy sal tot groot hulp vir ander wees wanneer jy deurgaans op God vertrou! Iemand het eendag vir my gesê:

“Wanneer jy die bodem van jou krag bereik, loop jy jou in God vas!

Verlos ons van die Bose

Een van die belangrike dinge wat ‘n Christen moet leer is om te onderskei tussen al die stemme wat hy/sy elke dag hoor. Ek praat nie net van mense stemme nie. Elke dag hoor ons ook nog onsself, die stem van God, die stem van Satan en die stem van die gemeenskap of omgewing waarvan ons deel is. Ons werk; vriendekring; sport groep; sosiale groep; kerk groep; etniese groep; politieke groep en so kan ons aangaan.

Versoeking om te sondig kom van Satan self en onthou, hy is dié meester op die gebied van sonde. Satan besit die wonderbaarlike vermoë om gedagtes in ons kop te sit en ons dan te laat skuldig voel daaroor! Gaan lees gerus meer hieroor in 1 Kron. 21: 1; Mat. 16: 13-23 en Hand. 5: 1-3.

Ons is nie sterk genoeg om Satan te verslaan nie. Ek en jy is geen opponente vir die duiwel nie. Daarvoor is hy heeltemal te slim en te magtig.

Een van Satan se geliefde maniere om ons te versoek is om, soos ʼn visserman, vir ons ʼn stuk lok-aas uit te gooi.  Hoe meer ons die aas vat, hoe makliker word dit om die aas volgende keer weer te vat en hoe moeiliker word dit dan om in die toekoms daarvoor nee te sê.

Sonde-verslawing, net soos drank- en dwelmverslawing, vind nie oornag plaas nie. Niemand drink vanaand ʼn drankie en môre is hy ʼn alkoholis nie. Soms neem dit tot tien jaar vir iemand om ʼn alkoholis te word. Maar alle vorme van verslawing begin met daardie eerste drankie; daardie eerste sigaret; daardie eerste “snort”. En wanneer iemand vir jou sê: “Aag man, ek kan noú ophou as ek wil”, dan moet jy weet dat dit klaar te laat is!

Die tye wanneer Satan gewoonlik op ons toeslaan is:
Ø       Kort na ons bekering wanneer ons nog jonk in die geloof is. (1 Tim. 3: 6)
Ø       Wanneer ons dink ons geloof is sterk genoeg. (1 Kor. 10: 12)
Ø     Wanneer ons onsself in vreemde omgewings begeef waar ons nie weet hoe die vyand daar funksioneer nie.
Ø       Wanneer ons geloof beproef word.
Ø     Wanneer ons die aanslae van die lewe soos smart, siekte, honger, eensaamheid, ens. moet trotseer. (Matt. 4   )
Ø       Wanneer ons iets graag wil hê maar ons beskik nie oor die middele om dit self te bekom nie.
Ø       Wanneer ons ʼn geestelike laagtepunt (of hoogtepunt) in ons lewens ervaar.  (1 Kon. 18 en 19)

In die verhaal van die versoeking van Jesus, soos dit vir ons opgeteken is in Matt. 4 vanaf vers 1, vind ons dieselfde elemente van oomblikke van swakheid wat Satan gebruik om op ons lewens toe te slaan. 

Kom ons lees weer wat staan in Matt. 4 vanaf vers 1:
“Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. (2) Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword. (3) Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: ‘As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.’ (4) Maar Hy antwoord: ‘Daar staan geskrywe: n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.’  (5) Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan (6) en sê vir Hom: ‘As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: ‘Hy sal sy engele oor jou opdrag gee en: ‘Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.’ (7) Jesus sê vir hom: ‘Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.’ (8) Toe neem die duiwel Hom na 'n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag (9) en sê vir Hom: ‘Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.’ (10) Maar Jesus sê vir hom: ‘Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: ‘Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.’ (11) Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.”

Jesus het vir veertig dae niks geëet nie; Hy was honger en dors; Hy was ook op 'n laagtepunt van Sy lewe; Hy was alleen en boonop nog in die woestyn; Dit was kort na Sy doop; Jesus se kindskap van God was onder beproewing. Maar deur dit alles was God deurentyd by Hom. God stuur selfs Sy engele om Jesus na die tyd te versorg.

Die verhaal van Jesus se versoeking in die woestyn, behoort vir almal van ons 'n voortdurende voorbeeld te wees wanneer ons in die versoekings van hierdie wêreld kom.

Liewe vriend/vriendin, desnieteenstaande die feit dat die Bybel vir ons sê: “Ondersoek alle dinge maar behou die goeie”, moet ons ook voortdurend waak dat ons ons nie willens en wetens aan die versoekinge van hierdie wêreld blootstel nie. Dit is moeilikheid soek! Martin Luther het by geleentheid gesê: ‘n Mens kan nie verhoed dat voëls oor jou kop vlieg nie. Maar jy kan verhoed dat hulle in jou hare nes maak.

Moet ook nie onder die hoender stellasie gaan sit en wanneer die hoenders op jou kop mis, sê dit is die Here se wil nie!

Elkeen van ons het 'n Godgegewe opdrag om te waak teen versoekings en om NIE daaraan toe te gee nie.

Daarom sê Jakobus in Jak. 1: 13 tot 15 “Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ‘Ek word deur God versoek’ nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.”

Goddank dat ons die wonderlike versekering besit waarvan Paulus in Rom. 8: 38 praat: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Wéét dat daar versoekings en beproewings oor jou lewe gaan kom, maar, hoe moeilik dit ook al mag klink, wees dankbaar as dit gebeur, want dan kan jy verséker weet dat God jou nog nie verlaat het nie en dat Hy nog steeds besig is om jou vir Sy koninkryk voor te berei!






No comments:

Post a Comment