Siele, Geeste, Demone en dergelike dinge
Stes de Necker
Inleiding
Tydens die navorsing en voorbereiding van hierdie hoofstuk het ek baie getwyfel of dit die regte ding is om oor hierdie onderwerp in ʼn boek soos hierdie te skryf, maar nadat ek weer Paulus se brief aan die Efesiërs gelees het, (Ef. 6: 12) het ek dit goed gedink om dit wel te doen. Ek glo dat, vernaam ons jonger geslag, voorbedag op hierdie verskynsels moet wees en dat hulle oor die nodige kennis en vermoë moet beskik om te weet hoe om daarmee te handel wanneer sulke dinge op hulle pad kom. Hoe sal enige mens weet om voorbedag te wees op die “ bose” magte van hierdie sondige wêreld, teen die bose geeste in die lug”, as hulle nie weet waarvan die Bybel praat nie. Met die nodige kennis kan elke mens hierdie bedreigings vierkantig in die oë kyk, sonder om te vrees dat hy/sy deur hierdie magte oorrompel sal word.
Dit bly egter lewensnoodsaaklik dat ons altyd met groot omsigtigheid en verantwoordelikheid sal optree wanneer ons met hierdie onderwerpe handel. In 1 Joh. 5: 19 sê die apostel: “ Ons weet dat ons aan God behoort en dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is.” Satan en sy engele moet nie ligtelik opgeneem word nie! In onsself is ons nie in staat om die mag van die duiwel te verslaan nie. Slegs in die krag van onse Here Jesus, en deur Sy genade, kan ons hom, op die beste, teëstaan. Slegs God sal die Satan uiteindelik verslaan. (Op. 20: 10) Jesus Christus self, toe hy deur die Satan versoek is, het nie Satan se vermoë om te doen wat hy gesê het hy kan doen, betwis nie. Hy het bloot vir hom gesê “Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”
Vroeg reeds, toe ek begín het met my navorsing en voorbereiding oor hierdie onderwerp, was dit reeds duidelik dat ek nie sonder probleme hierdie hoofstuk gaan skryf nie. Van meet af was daar ʼn demoniese weerstand daarteen. Elke sin was ʼn stryd om die werklike betekenis wat ek daarmee wou oordra, te verwoord. Menige sin moes ek ʼn half dosyn keer of meer oorskryf om by die regte bedoeling daarvan uit te kom. Die regte woorde het my bloot ontgaan en wanneer ek nog 'n woord kon vind wat gelyk het of dit sou pas, was dit totaal buite die konteks van my bedoeling. As die drukker se ink nie opgeraak het nie, het die rekenaar probleme met die sagteware gehad. As die krag nie afgegaan het sonder dat ek “gesave” het nie, was daar probleme met toegang tot die internet! Satan het hard probeer om my sovêr te kry om nié hierdie hoofstuk te skryf nie! Al het die skryf van hierdie hoofstuk langer geneem as enige van die ander hoofstukke in hierdie boek, kon ek egter, slegs deur die genade van Jesus Christus en onder Sy beskerming, daarin slaag om hierdie gedeelte klaar te maak.
Agtergrond
Vir meeste van ons ouer geslag wat in die Gereformeerde Christelike geloof grootgeword het, was enige bespreking of beskouing van die geestelike realm so te sê taboe. Veral as dit gekom het by onderwerpe soos bose geeste en demone is daar baie vinnig vir jou gesê jy praat nou oor duiwelse dinge wat nie by 'n Christen tuishoort nie.
Tot en met die laat 20e eeu, het daar hoofsaaklik twee hoof strominge in die Christelike teologie bestaan wanneer daar gehandel is met hierdie onderwerpe. Aan die een kant was daar die eng fundamentalistiese benadering, wat in werklikheid 'n oor beklemtoning van die realiteit en gevare van die bose behels het, terwyl daar aan die ander kant van die teologiese spektrum, veral in die sogenaamde “verligte naturalistiese” teologie, 'n weg filosofering van die bestaan en gevare van die bose bestaan het wat, tot 'n groot mate, vandag nog voortleef. Alle Bybelse standpunte is onderhewig aan subjektiewe interpretasie, kontekstuele teologie en uitlegkunde. (Hermeneutiek) Soos Prof. Piet Strauss dit stel: “Asof die Bybel nie meer genoeg is nie. Dit is nou die Bybel plus.”
Net so 'n groot fout as wat dit sal wees om hierdie oordrewe beklemtoning van die bose en sy magte, veral in die Gereformeerde liturgie, te handhaaf, net so 'n groot fout sal dit wees om die realiteit en gevare van die bose te probeer wegredeneer of om onverskillig daarteenoor te staan.
As gelowiges glo ons dat die Skrif die ware en enigste Woord van God is. 2 Tim. 3: 16 “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek.”
In 2 Kor. 2: 11 maan Paulus ons om nie oningelig oor die bose se taktiek te wees nie. “Die Satan moet nie die oorhand oor ons kry nie. Ons ken sy planne maar alte goed.” Die Satan en sy bose magte is ʼn werklikheid en moet nie ligtelik opgeneem word nie. Selfs die aartsengel Migael het nie kans gesien om Satan te beledig nie! (Judas vers 9).
Vir die opregte kind van God bestaan daar egter 'n baie groot versekering dat ons nie hoef te vrees dat ons deur die bose magte oorrompel sal word nie. In 1 Joh. 4: 4 lees ons: “Julle behoort aan God, liewe kinders en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is.” en vêrder in 1 Joh. 5: 18: “Ons weet dat iemand wat 'n kind van God is, nie meer sondig nie, maar die Seun van God bewaar hom en die duiwel kry geen houvas op hom nie.” Satan se mag is nog altyd beperk tot dit wat God hom toelaat (Job 1: 12)
Oor die bestaan al dan nie van die bose en sy vernietigende mag, soos wat dit in die Bybel beskryf word, moet ons as Christene sekerlik vir onsself die vraag afvra: Wanneer is ʼn Bybelse uitspraak die produk van een of ander teologiese dogma, of wanneer is dit ʼn tydlose Bybelse waarheid? Of álle uitsprake van die Bybel moet as die waarheid beskou word, of géén daarvan. Anders gestel; Hoe verantwoord die verligte teologie die aanvaarding van die Bybel se uitsprake oor God as die waarheid, maar as dit kom by die Bybel se uitsprake oor bose geeste en demone, aanvaar hulle dit nie as die waarheid nie? Watter deel van “Die hele Skrif is deur God geïnspireer ...” (2 Tim. 3: 16) verstaan hulle nie?!
Die fundamentalistiese siening.
Die talle waarskuwings en veroordelings in die Ou- en Nuwe Testament teen die bose magte van die Satan en sy demone (gevalle engele), het vir menige gereformeerde predikant genoeg stof tot nadenke gebied om kerklidmate deeglik van die realiteit en gevaar van bose magte te oortuig!
Die woord “Duiwel” (Satan) kom nie minder as 53 keer voor in die Nuwe Testament; In Matt. 4:1, 5, 8, 11; 9:32, 33; 11:18; 13:39; 15:22; 17:18; 25:41; Mark. 7:26, 29, 30; Luk. 4:2, 3, 5, 6, 13, 33, 35; 7:33; 8:12, 29; 9:42; 11:14; Joh. 6:70; 7:20; 8:44, 48, 49, 52; 10:20, 21; 13:2; Hand. 10:38; 13:10; Ef. 4:27; 6:11; 1 Tim. 3:6, 7; 2 Tim. 2:26; Heb. 2:14; Jak. 4:7; 1 Pet. 5:8; 1 Joh. 3:8, 10; Jud. 1:9; Op. 2:10; 12:9, 12; 20:2, 10.
Verwysings na “duiwels” (demone) kom 45 keer in die Bybel voor. In Deut. 32:17; Ps. 106:37; Matt. 4:24; 7:22; 8:16, 31; 9:34; 10:8; 12:24, 27, 28; Mark. 1:32, 34, 39; 3:15, 22; 5:12, 18; 6:13; 9:38; 16:9, 17; Luk. 4:41; 8:2, 27, 30, 33, 35, 38; 9:1, 49; 10:17; 11:15, 18, 19, 20; 13:32; 1 Kor. 10:20, 21; 1Tim. 4:1; Jak. 2:19; 3:15; Op. 9:20; 16:14 en Op. 18:2.
Oor bose geeste word daar 24 keer in die Bybel na verwys. In Matt. 8:16; 10:1; 12.45; Mark. 1:27; 3:11; 5:13; 6;7; Luk. 4:36; 6:18; 7:21; 8:2; 10:20; 11:26; Hand. 5:16; 8:7; 19:12,13; 1 Kor. 12:10; Ef. 6:12; 1 Tim. 4:1; 1 Joh. 4:1 en Op 16:13,14; 18:2.
In hulle pogings om die gelowiges teen hierdie magte te waarsku, het menige predikant lidmate so die skrik op die lyf gejaag dat die meeste van hulle enige bespreking hieromtrent summier vermy het uit vrees dat hulle deur die bose oorrompel sou word.
Die naturalistiese of verligte siening.
Aan die ander kant van die teologiese spektrum is daar weer die “verligte” teologie wat 'n groot voorstander van die sogenaamde “naturalisme” is. Alle moontlike verskynsels moet op grond van die fisika, die psigologie, of die natuur wetenskappe verklaar word. 'n Sprekende voorbeeld hiervan is die Darwinistiese evolusieteorie wat teenoor die Bybel se skeppings geskiedenis gestel word. Daar bestaan 'n tendens om alles wat nie empiries of met die natuurlike sintuie waargeneem kan word nie, op een of ander manier weg te filosofeer.
Sekere “verligte” teoloë probeer selfs om Bybel se uitsprake oor die geestes-wêreld te relativeer tot die antieke begripsraamwerk van die skrywers van die Bybel. Volgens hierdie teoloë was die Bybelskrywers vasgevang binne die wêreldbeskouing van daardie tyd, wat die demonologie bloot as mitiese verhale of metafisiese verskynsels beskou het.
In hulle pogings om 'n wêreldbeskouing daar te stel wat nie die realiteit van die demoniese werklikheid erken nie, is daar vandag nog sekere “verligte” teoloë wat die fundamentele aspekte van die Bybel se waarhede probeer verander. Hierdie teologieë is niks anders as ʼn Godsdiens wat die “uiterlike skyn van die godsdiens het, maar die krag van die godsdiens nie ken nie.” (2 Tim. 3: 5) In 1Joh. 3: 8 lees ons “Die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak."
Met sy heel beste pogings, sal die mens dit nie regkry om die werk van die duiwel tot niet te maak nie. Met sy mees moderne wetenskaplike uitvindings en dogmatiese teorieë kan die mens nie die Bybel se waarhede weg redeneer nie.
Die Geestes wêreld.
Een van die grootste oorsake vir die onkunde wat daar vandag nog bestaan oor bose geeste, demone, magte, verskynsels ensovoorts, is sekerlik die magdom verwarrende begrippe wat daaroor bestaan. Om hierdie onderwerp in perspektief te plaas, is dit nodig dat ons eers moet probeer duidelikheid kry, waarvan praat ons.
In Ef. 6:12 skryf Paulus: "Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug." En in 1 Pet. 3:22 skryf die apostel Petrus oor Jesus: "Hy is nou aan die regterhand van God nadat Hy die bose magte aan Hom onderwerp het en die hemel ingegaan het.” In die ou vertaling het daar gestaan: “wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is."
Die Bybel praat van ʼn hele aantal verskillende entiteite wat deel uitmaak van die geestewêreld. So lees ons byvoorbeeld van engele, siele, geeste, duiwels, magte, kragte, verskynsels ensovoorts. Om gevolglik vir onsself 'n beeld te probeer skep van hierdie onbekende wêreld, is dit nodig dat ons eers moet kyk na die betekenis van elkeen van hierdie begrippe.
1. Engele en Gerubs.
In Heb. 2: 7 en 9 lees ons dat engele en gerubs deur God geskape is en reële metafisiese, hemelse, geestelike wesens is. As sodanig is hulle deel van God se leërskare (1Kon. 22: 19, Neh. 9:6, Job 25: 3) In Ps. 148: 2 lees ons: “Loof Hom, al sy engele, loof Hom, al sy leërskare.”
In Heb. 2: 7 en 9 lees ons dat engele en gerubs deur God geskape is en reële metafisiese, hemelse, geestelike wesens is. As sodanig is hulle deel van God se leërskare (1Kon. 22: 19, Neh. 9:6, Job 25: 3) In Ps. 148: 2 lees ons: “Loof Hom, al sy engele, loof Hom, al sy leërskare.”
Volgens die apostel Lukas het engele die funksie om God se boodskap oor te dra (bv. Luk. 1: 26-38) en om te beskerm (Ps. 91:11). Heb 1:14 sê hulle is "dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe."
Engele het dan ook by verskeie geleenthede in die fisies waarneembare realm gemanifesteer om aan mense te kon verskyn (bv. Gen. 19; Luk. 1:11-19, 26-38).
Reeds in Gen. 3: 24 lees ons dat God, oos van die tuin van Eden , gerubs gesit het om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.
2. Die Siel en Gees van die mens.
Wanneer ons hieroor praat, is dit nodig dat ons die begrip “siel” en “gees” duidelik van mekaar skei. Daar bestaan ʼn wanopvatting dat die begrip “siel” en “gees” sinoniem met mekaar is. Hierdie wanopvatting het ontstaan as gevolg van die feit dat daar in sommige Bybelvertalings, die woorde "siel" en "gees" as ekwivalente aangedui word. Die ‘siel' verwys fundamenteel na die unieke persoonlike eienskappe van 'n mens, terwyl die “gees” verwys na daardie elemente wat ons in staat stel om te lewe en voor te plant. Alhoewel dit soms wil voorkom of dit bloot 'n semantiese verskil is, bly dit egter twee afsonderlike konsepte. Hebreërs 4:12 sê die Woord is soos 'n swaard met twee snykante wat selfs tot “skeiding van siel en gees”, kan deurdring.
Die Bybel beskryf die woord siel hoofsaaklik as “nephesh” in die Hebreeuse betekenis of “psyche” in die Griekse betekenis daarvan. Die Griekse Bybel (Septaugint) gebruik weer die woord “psyche” (psige) (ψυχή ) om “nephesh” te vertaal. In die Afrikaanse Bybel word die woord “siel” deurgaans gebruik om die Hebreeuse “nephesh” en die Griekse “psyche” mee te vertaal.
In die oorspronklike Hebreeuse vertaling van die Bybel, is die term “ruach” gebruik om die “lewensasem” (gees) te beskryf en wat met die dood terugkeer na God vanwaar dit gekom het. “Nephesch” het in die oorspronklike Hebreeus geen betekenis bevat van 'n onsterflike siel nie. Die Griekse term “psyche” het grotendeels dieselfde betekenis as die Hebreeuse “nephesh”, ook sonder verwysing na 'n onsterflike siel.
Gen. 2: 7 “Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem ( ruach) in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese (nephesch) geword het.
Die diere wat God geskape het word ook in die Hebreeuse vertaling na verwys as “nephesch” (lewende wesens). Die dier beskik ook oor ʼn lewegewende gees net soos die mens. Die verskil is egter dat die mens verder nog oor ʼn “siel” (psige) beskik, en na die beeld van God geskape is. (Genesis 1:26 ) Wat betref ons fundamentele natuur (biologiese aard) en die aard van ons dood, is daar geen verskil tussen mens en dier nie.
In Prediker 12: 7 sê die Prediker: “…. Die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God toe terugkeer wat dit gegee het.” Wanneer die mens en dier sterf, hulle laaste “lewensasem” (ruach) uitblaas, onttrek God sy lewegewende gees, en keer dit terug na Hom wat dit gegee het.
In Prediker 12: 7 sê die Prediker: “…. Die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God toe terugkeer wat dit gegee het.” Wanneer die mens en dier sterf, hulle laaste “lewensasem” (ruach) uitblaas, onttrek God sy lewegewende gees, en keer dit terug na Hom wat dit gegee het.
Hiervolgens sou dit dus voorkom dat die lewende wese (“siel”, oftewel dan “nephesh”) aan die dood onderworpe is, terwyl die “gees” onvernietigbaar is.
In Matt. 10: 28 lees ons egter: “Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.”
In 1959 het Dr. Johan Heyns in sy boek “Die onsterflikheid van die siel”, sterk standpunt ingeneem oor die feit dat die siel nie na die dood ook “sterf” nie maar as deel van die verheerlikte liggaam, na die hiernamaals toe gaan. Hierteenoor het die filosoof, Dr. Johan Degenaar, in sy boek, “Die sterflikheid van die siel” weer sterk standpunt ingeneem oor die feit dat die mens nie gesien kan word as ʼn samestelling (kompositum) van siel, gees en liggaam wat met die dood in afsonderlike bestanddele opbreek nie. Volgens Degenaar het die begrippe liggaam en siel ʼn relatiewe geldigheid binne die gewone spreektaal, maar kan dit nie tot afsonderlike substansies verhef word nie.
Hierdie lynreg opponerende standpunte in die moderne teologie, laat ons as gewone lidmate egter met ʼn wesentlike dilemma in ons praktiese begrip van hierdie konsepte.
Wanneer ons egter weer krities kyk na die Bybel se beskrywing van die skepping van die mens soos opgeteken in Gen. 2: 7 “Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het.” , is dit duidelik dat die mens ook 'n drie-enige wese is, bestaande uit liggaam, siel en gees. Die siel (die lewende wese) is daardie deel wat elkeen van ons die unieke wesens maak wat ons is. Ons persoonlikheid, geaardheid, beginsels, wesens-kenmerke. Ons gees is dit wat maak dat ons “lewe”. Voortplant, asemhaal, optree, verstandelike vermoë, ens.
Saam met ons lewegewende gees ontvang ons verder ook nog die Heilige Gees van God wat aan óns (lewegewende) gees, die gawes van die gees skenk waarna daar in 1 Kor. 12 verwys word. Die gawe om ʼn woord van wysheid te praat, gawe van kennis, gawe van geloof, genadegawe, gawe van gesondmaking, krag om wonders te doen, gawe om God se boodskap te verkondig, gawe om tussen geeste te onderskei, gawe om ongewone tale te gebruik, gawe om dit uit te lê. Die mens se gees en die Heilige Gees is nie dieselfde ding nie! Hand. 1: 8 “... julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom.” En in Rom. 8: 16 sê Paulus: “ Hierdie Gees (Heilige Gees) getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.”
Beide die siel en die gees van die mens is onsterflik. In Matt. 10: 28 lees ons: “Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.” Die siel én die gees van die mens “verdwyn” nie maar bloot eenvoudig by dood nie.
Ná sy uitwerping uit die hemel het Satan die vermoë bekom om tot so ʼn mate houvas op die mens se gees, (lewensbron) te verkry dat dit uiteindelik tot die mens se sondeval gelei het. Met hierdie vermoë kon Satan daarin slaag om die mens se Godgegewe lewegewende gees tot so 'n mate te beïnvloed en te onderdruk, dat sy (Satan) se bose engele beheer oor die mens se optrede kon verkry en op hierdie wyse Satan se bose bedoelinge op hierdie manier die wêreld ingestuur kon word. Let wel dat ons praat van “onderdrukking” van die menslike gees, aangesien Satan nie die menslike gees kan “vernietig” nie. In al die gevalle waar Jesus 'n bose gees of geeste uit mense verdryf het, het daardie mense nie dood neergeslaan nadat die bose geeste uit hulle verdryf is nie! Die oorspronklike, Godgegewe, lewegewende gees was nog altyd in hulle teenwoordig. Dit was net onderdruk.
Afhangende dus van elkeen van ons se persoonlike verhouding met God, sal bepaal word waarheen ons siele na die dood in die hiernamaals gaan; óf na ʼn lewe saam met God in die hemel, óf na die ewige verderf in die hel. Die populistiese siening dat die mens se gees ná sy dood nog steeds hier op aarde kan rondswerf, soos wat dit so graag deur mense beweer word of so dikwels deur rolprentvervaardigers in rolprente uitgebeeld word, kan nooit Bybels fundeer of verantwoord word nie! Die gees van die mens word deur God begrens en kan nie willekeurig (op sigself) gaan wáár dit wil, wannéér dit wil nie; dit bly altyd onderhorig aan die wil van God.
Dat daar wel demone of bose geeste is wat hulleself voordoen as die sogenaamde gees van 'n afgestorwene, kan nie betwyfel word nie. Hierdie “voordoening” het egter altyd een of ander bose motief. “Die kerk of die dominee kon my nie die antwoord gee nie, maar 'n spiritus kon!”
Volgens die Bybel is daar geen “mens-geeste” wat iewers hier op aarde rondsweef nie. Prediker 12: 7 sê vir ons baie duidelik dat die gees na God terugkeer wat dit gegee het. Die gees van ‘n mens wat sterf bly nog altyd onder God se beheer en kan nie willekeurig hier iewers rondswerf voordat dit besluit wanneer dit na God sal terugkeer nie!
Aan die kruishout sê Jesus: “Vader, in u hande gee ek my gees oor.” (Luk. 23:46) Jesus se gees het onmiddellik na sy dood na die Vader gegaan. Vir die misdadiger wat saam met Jesus gekruisig is sê Hy: “Vandag sal jy saam met my in die paradys wees” Daar is geen tydverloop tussen die mens se afsterwe en sy ewige bestemming nie.
In Lukas 16 lees ons van Lasarus en die ryk man wat na hulle dood, Lasarus hemel toe gegaan het en die ryk man wat hel toe gegaan het. Nadat daar beskryf word hoe die ryk man in die vuur lei, lees ons in vers 28: “Laat hy hulle dringend gaan waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.” Duidelik kom hierdie versoek nie van die gees van die ryk man nie, maar van sy bedorwe siel. Vir hom gaan dit nie meer oor die liefde vir God nie, maar bloot oor ʼn soort van bekering “sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging beland nie.”
“Bekering”, om bloot die hel te vermy, is nie ware bekering nie; Inteendeel dit is ʼn verdoemenis in sigself!
Die derde komponent van ons drie-enige geskapenheid is natuurlik die liggaam wat stoflik sal vergaan, maar wat ons glo weer in verheerlikte vorm sal opstaan.
Aan die hand van hierdie beskouing kan ons nou tot die slotsom kom dat die mens, in soverre dit sy aardse bestaan betref, as ʼn drie-eenheid sterf, maar in soverre dit sy hiernamaalse bestaan betref, sal die opgestane mens verseker nie nog steeds as dieselfde drie-eenheid bly voortbestaan nie. Afhangende van die mens se verhouding met God tydens sy (die mens) se bestaan op aarde, sal die mens, met ʼn verheerlikte liggaam en siel, óf hemel óf hel toe gaan terwyl die lewegewende “gees” van die mens (lewensasem) sal terugkeer na God wat dit gegee het. In die ewige heerlikheid by God sal ons nog steeds afsonderlike identifiseerbare wesens (siele) wees, maar beklee met 'n ewige bestaan soos God ons belowe het. Ons sal nie ʼn lewensasem nodig hê nie!
Vir die wat nie by God sal wees nie, is dit ondenkbaar om selfs te oorweeg dat die gees van God saam met die veroordeelde siel in die hel sal wees!
3. Satan
In Op. 12 :7-18 lees ons die volgende: (7) “Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. (9) Die draak en sy engele het oorlog gevoer, want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom. (13) Toe die draak sien dat hy op die aarde gegooi is, het hy die vrou agtervolg wat die seun in die wêreld gebring het. (16) maar die aarde het die vrou te hulp gekom. Dit het oopgegaan en die stroom opgesluk wat die draak uit sy bek uitgespoeg het. (17) Die draak was woedend oor die vrou en hy het weggegaan om oorlog te maak teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God nakom en aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het.” (Die kerk van Jesus Christus)
Voor sy uitwerping uit die hemel was Satan ʼn hemel wese gewees. In die boek Job lees ons in hoofstuk 2 vanaf vers 1: “Toe die hemelwesens weer op 'n dag voor die Here kom staan, het die Satan ook tussen hulle voor die Here kom staan. (2) Toe vra die Here vir hom: ‘Waar kom jy vandaan?’ En die Satan antwoord die Here: ‘Ek het die wêreld deurkruis.’ (3) Die Here vra toe vir die Satan: ‘En my dienaar Job, het jy hom nou gesien? Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad. Hy het vroom gebly, al het jy My daartoe gebring om hom sonder rede te ruïneer.’ (4) Die Satan sê toe vir die Here: ‘Dit bewys nog niks. 'n Man sal mos alles gee wat hy het, as hy net kan bly lewe.’ (5) Maar raak nou net aan sy liggaam en kyk of hy U dan nie in u gesig vervloek nie.’ (6) Toe sê die Here vir die Satan: ‘Goed, hy is in jou mag. Net sy lewe mag jy nie neem nie.’ (7) Die Satan het van die Here af weggegaan en vir Job met pynlike swere getref, van sy kop tot sy tone.”
Betekenis van die woord Satan
In die vroeë Hebreeuse vertaling het die woord “Satan” (הַשָּׂטָן - ha-Satan) of “opponeerder”, verwys na verskillende entiteite wat die gelowiges se geloof in God uitgedaag het.
In die vroeë Hebreeuse vertaling het die woord “Satan” (הַשָּׂטָן - ha-Satan) of “opponeerder”, verwys na verskillende entiteite wat die gelowiges se geloof in God uitgedaag het.
In die Griekse vertaling is die Hebreeuse “ha-satan” vertaal as “diabolos” (lasteraar of kwaadprater) vanwaar die Engelse woord “devil”, afgelei is. Die antieke Engelse woord “dēofol “, (devil) was ʼn Germaanse afleiding van die woord, “diabolus” vanwaar ook die Engelse woord “diabolical” afgelei is.
Die Latynse woord “diabolus” is op sy beurt weer afgelei van die Griekse woord “diabolos” of “diaballein” (om te laster of kwaad te praat).
In die Nuwe testament het die woorde “Satan” maar bloot eenvoudig die voornaam woord vir “duiwel” geword. Dit dra met ander woorde nog steeds presies dieselfde betekenis.
Satan op aarde.
Volgens die boek Job, was Satan, voordat hy uit die hemel uitgewerp is, ʼn hemel wese wat in diens van God gestaan het. Verskeie teoloë redeneer selfs dat Satan eens die “aanklaer” van die mensdom vir God was. Hierdie afleiding word hoofsaaklik baseer op die gebeure soos beskryf in die boek Job. In vers 3 lees ons : “Hy het vroom gebly, al het jy My daartoe gebring om hom sonder rede te ruïneer.”
Volgens die boek Job, was Satan, voordat hy uit die hemel uitgewerp is, ʼn hemel wese wat in diens van God gestaan het. Verskeie teoloë redeneer selfs dat Satan eens die “aanklaer” van die mensdom vir God was. Hierdie afleiding word hoofsaaklik baseer op die gebeure soos beskryf in die boek Job. In vers 3 lees ons : “Hy het vroom gebly, al het jy My daartoe gebring om hom sonder rede te ruïneer.”
Satan se groot sonde was egter toe hy homself aangematig het om op dieselfde vlak van God te probeer wees. Hy het God se almag oor die skepping en God se kinders begeer en toe hy dit nie kon kry nie het hy in opstand teen God gekom. Lees gerus weer Jesaja 14 vanaf vers 4. Dit het daartoe gelei dat daar, soos wat ons in Openbaring hoofstuk 12 lees “oorlog in die hemel gekom het wat daartoe gelei het dat Satan en sy engele uit die hemel gegooi is. Op. 12 :7-18: (7) “Daar het toe oorlog gekom in die hemel: Migael en sy engele moes oorlog voer teen die draak. (9) Die draak en sy engele het oorlog gevoer, want die groot draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan genoem word en wat die hele wêreld verlei, is uit die hemel uit gegooi. Hy is op die aarde gegooi en sy engele saam met hom.”
4. Satan se engele.
Soos ek vroeër reeds gesê het, bestaan daar onder die post-moderne “verligte” teologie die mening dat die manier waarop daar geskryf word in die Bybel van engele, demone en bose geeste in die Bybel, die uitsluitlike produk was van die wêreldbeskouing en verstaan raamwerk gedurende die Bybel se tyd. Sommige van hierdie post-moderne teoloë beweer verder dat die Griekse mitologie en begrip van ʼn multi-dimensionele godedom, die oorsaak was vir die oorbeklemtoning van engele en magte in die Nuwe Testament.
Soos ek vroeër reeds gesê het, bestaan daar onder die post-moderne “verligte” teologie die mening dat die manier waarop daar geskryf word in die Bybel van engele, demone en bose geeste in die Bybel, die uitsluitlike produk was van die wêreldbeskouing en verstaan raamwerk gedurende die Bybel se tyd. Sommige van hierdie post-moderne teoloë beweer verder dat die Griekse mitologie en begrip van ʼn multi-dimensionele godedom, die oorsaak was vir die oorbeklemtoning van engele en magte in die Nuwe Testament.
Die term "duiwel" en "duiwels" word normaalweg verbind met die Satan of met gevalle engele, bose geeste of demone. Die Bybel gee duidelike verantwoording vir die bestaan van die boosheid deur dit toe te skryf aan die doen en late van die duiwel en sy trawante, die demone, van die begin af (Gen 3:1-3). Jesus leer Sy dissipels om te bid: "...verlos ons van die Bose." As demone (bose geeste) nie 'n werklikheid is nie, sou Jesus ons sekerlik nie geleer het, “verlos ons van die bose”, nie.
Die bose geeste-wêreld is 'n realiteit, of die post-modernisme dit nou wil aanvaar of nie. Net soos wat alkohol en dwelmverslawing 'n realiteit is, net so is duiwels-verslawing (besetenheid) 'n realiteit. Net soos wat dwelmverslawing nie oornag plaasvind nie, net so vind duiwels-besetenheid ook nie oornag plaas nie. Almal begin met daardie eerste onskuldige eksperiment en dan 'n tweede en 'n derde, en voordat die persoon besef waar hy/sy is, is dit reeds te laat.
Die Bybel openbaar die feitelike waarhede waar Jesus met bose geeste afgereken het as werklike en reële historiese gebeure, en is nie verdigsels wat die Bybelskrywers gebruik het om by een of ander wêreldbeskouing van die tyd aan te pas nie.
5. Spiritisme, fortuin vertellery, astrologie en divinasie (waarsêery)
Ek glo dat die meeste Christene terdeë bewus is van die wesentlike bedreiging wat demone (bose geeste) vir ons inhou. So werklik soos afgodery en afgodsdiens, en die afgeleide praktyke daarvan soos spiritisme, heksery, toordery, fortuin vertellery, astrologie en divinasie (waarsêery) is, so 'n wesentlike risiko bestaan daar rondom demoniese beïnvloeding as gevolg van blootstelling daaraan. Hierdie praktyke is niks vreemds nie. In Hand. 16: 18 lees ons bv. Dat Paulus 'n waarsêende gees uit 'n meisie moes dryf wat deur haar hanteerders vir geldelike gewin misbruik is.
In die Ou Testament lees ons in Deut. 18 vanaf vers 10: “Daar mag nie iemand by jou wees wat sy seun of dogter as offer laat verbrand nie. Daar mag nie ʼn besweerder by jou wees nie en ook nie 'n towenaar of iemand wat voortekens lees of 'n goëlaar (11) of 'n slangbesweerder of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie. (12) Die Here het 'n afsku van elkeen wat hierdie soort ding doen.” God wil nie hê dat ons ons oor die dag van môre moet bekommer nie, want Hy weet wat ons nodig het. Ons moet berus in die wete dat God die toekoms sal bepaal en daarom is waarsêery en fortuin vertelling niks anders as 'n poging van die mens om beheer te verkry oor sy eie toekoms. 'n Mosie van wantroue in God!
Saul het daarmee volhard om nie na die woord van God te luister nie en aangehou doen wat hý wou doen. Hy het die Here nie vertrou nie en eindig uiteindelik op by die waarsêer van Endor, en die Here straf hom daaroor.
In 1 Kor. 10 vanaf vers 19 waarsku Paulus ons: “Wat wil ek hiermee sê? Dat 'n afgods offer of 'n afgod enige betekenis het? (20) Nee, maar dat dié wat aan hulle offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê julle moet met duiwels gemeenskap hou nie. (21) Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van duiwels nie. (22) Of wil ons die Here uittart? Is ons miskien sterker as Hy?” So ook waarsku Jesus ons in Matt. 26: 41: “Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.”
Opsomming.
Uit die voorafgaande is dit duidelik dat daar 'n verwarrende aantal terme en konsepte bestaan wat almal, op een of ander wyse, of vir een of ander doel, verwys na die geestewêreld. Verder is dit ook duidelik dat, sowel die Bybel as die normale spreektaal, nie altyd konsekwent is in die gebruik van hierdie terme wanneer dit kom by die toepassing daarvan nie.
Die vraag kan gevolglik met reg gevra word: Hoe kan ons verseker weet, wanneer ons met hierdie onderwerpe gekonfronteer word, dat ons korrek is in die onderskeid wat ons tref tussen dít wat van die bose afkomstig is, en dit wat van God afkomstig is. In die verhaal van Job het ons gelees dat Satan vir Job met pynlike swere getref het, van sy kop tot by sy tone. As so iets vandag moet gebeur, wat sal ons reaksie wees? Ek wil glo dat meeste teoloë en geneeshere vir jou sal sê dat jy van jou sinne beroof is as jy hulle probeer oortuig dat dit die werk van Satan is! In die Radio Kansel uitsending van 20 April 2010, het Ds. Johan Els van die Ned. Geref. Gemeente, Bloemfontein-Noord (Klipkerk), tereg die vraag gevra: “Hoe onderskei ek tussen God se stem, Satan se stem en my eie wil?” Ds. Els se antwoord was: Toets dit!
Ø Glo jy dat die Heilige Gees met jou kan praat?
Ø Hoekom wil jy God se stem hoor?
Ø Wil jy alles hoor wat God vir jou wil sê?
Ø Of net dit wat jy wil hoor?
Ø “Hoor” jy kontrasterende dinge?
Jeremia waarsku ons ook baie duidelik teen die vals profete in Jer. 23 : 16-17 en Jer. 23 : 30-33
Ø Oppas wat jy hoor, wat mense vir jou sê.
Ø Wees versigtig wat jy vir wie vra.
Ø Wees baie versigtig vir waarsêery!
Ø Oppas vir mense wat “sien” en dan jou toekoms voorspel in die naam van profesie.
Ø Mense vertel graag vir mense wat hulle wil hoor in die naam van die Here.
Op die vraag: Hoe toets ons of iets van die Here af kom? gee Ds. Johan vir ons die volgende raad:- Die Heilige Gees praat met ‘n sagte innerlike stem en nooit oorhaastig nie.
- Die Heilige Gees oortuig van sonde, Satan beskuldig.
- Dis altyd in ooreenstemming met die Woord van God (die Bybel).
- Die Heilige Gees lei, Satan domineer.
- Die Heilige Gees soek ons samewerking, Satan forseer.
- Die Heilige Gees wys ons het genade en waarde voor God, Satan kraak af.
- Die Heilige Gees motiveer, Satan manipuleer.
- Die Heilige Gees inspirer, die Satan intimideer.
- Die Heilige Gees praat altyd met ‘n positiewe stem en ‘n positiewe gesindheid, die Satan wek negatiwiteit in ons op.
Soos ek alreeds gesê het, deur die genade van ons Here Jesus Christus, en slegs in Sy krag, kan ons die aanslae van die bose afweer. Met God aan ons kant hoef ons nooit die mag van Satan te vrees nie! In Joh. 10: 28 lees ons: “Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”
Vir alle praktiese doeleindes kan ons die verskeidenheid terme en begrippe soos volg opsom:
Ø Die geestewêreld is 'n realiteit wat nie net in die hemelse realm nie, maar ook hier op aarde, bestaan, alhoewel ons dit nie met ons sigbare vermoëns kan waarneem nie. Hierdie wêreld huisves 'n verskeidenheid onsigbare geeste-wesens, elk met 'n unieke voorkoms en funksie.
Ø Engele en gerubs is God geskape reële-, metafisiese- en geestelike hemel wesens wat in diens van God staan.
Ø Die Godgegewe siel en gees van die mens is afsonderlike entiteite.
Ø Satan, met al sy verskillende beskrywings, was oorspronklik 'n hemel wese (engel) in diens van God, totdat hy homself die Godheid aangematig het en uit die hemel uitgewerp is. Satan en sy volgelinge is gevolglik nie deel van God se koninkryk nie!
Ø Satan beskik oor sy eie volgelinge, die gevalle engele, wat manifesteer as bose geeste of “duiwels”, of demone. Gesamentlik vorm hierdie groep die sogenaamde demonologie. Hierdie gevalle engele is die wat die mens se psige (gees) sodanig kan onderdruk dat hulle selfs die beheer van die mens se doen en late kan oorneem. Satanisme is sekerlik die grootste gevolg van hierdie oorname van die mens se psige.
Ø Spiritisme (geeste oproep), heksery, toordery, fortuin vertellery, astrologie (sterre voorspelling) en divinasie (waarsêery), is afgeleide gebruike van die demonologie wat deur mense, onder die invloed van demone, gepraktiseer word.
In hierdie hoofstuk het ek probeer om die verskillende begrippe en woorde tot so 'n mate van mekaar te onderskei, dat die gewone mens, soos ek en jy, ten minste oor 'n basiese begrip van die meer algemene terme wat daar bestaan, kan beskik. Hou ook in gedagte dat Satan op nie minder as veertig verskillende wyses in die Bybel beskryf word. Baie teoloë mag moontlik van my verskil op grond van bestaande dogmatiek in hierdie verband. Die probleem is egter dat selfs die bestaande dogmatiek nie eenstemmig is as dit kom by die teologiese sienings oor hierdie onderwerpe nie. Ek vertrou egter dat hierdie uiteensetting vir die meerderheid lesers, 'n bruikbare en praktiese verwysingsraamwerk sal gee wat kan help om die regte besluite te neem wanneer hulle met hierdie sensitiewe onderwerpe gekonfronteer word.
Liewe vriend en vriendin, Moet NOOIT die Bose uitdaag nie. Moet NOOIT probeer om Satan aan te vat nie. Moet NOOIT met die Bose eksperimenteer nie. Nie net jou aardse lewe, maar ook jou ewige lewe hang daarvan af. Vlug liewers vêr weg van enigiets wat nie van God af kom nie!
(Lees gerus weer Matt. 13: 19)
No comments:
Post a Comment