Tuesday, June 2, 2015

BESTAAN DAAR NOG IETS SOOS DIE HEL




BESTAAN DAAR NOG IETS SOOS DIE HEL


                                                              Stes de Necker


Inleiding

As koshuis kind op skool in Bloemfontein, het ons onder die De Bloem gemeente van die NG Kerk geval. De Bloem was die kerk van die legendariese Ds. Pietie Coetzee wat met soveel geesdrif en vurigheid kon preek dat die Kanselbybel bykans elke Sondag op die vloer beland het.

Een van ou dominee se gewilde onderwerpe waaroor hy gereeld gepreek het, was ons koshuisseuns se voorbestemming tot die hel indien ons onsself nie tot bekering kry nie.

In die hedendaagse bediening wil dit voorkom of die hel intussen verdwyn het sonder dat iemand ons daarvan gesê het!

Vir meeste mense het die hel vandag ʼn teoretiese onderwerp geword en in die teologie word hierdie onderwerp, in meeste Gereformeerde kerke, eerder vermy.

As ʼn mens egter kyk na die aantal nuwe publikasies wat oor die bestaan al dan nie van die hel verskyn, wil dit voorkom of hierdie onderwerp vandag weer herlewe in die Godsdienstig beskouings van baie mense. 

Uit hierdie publikasies is dit ook duidelik dat nie almal eenstemmig oor hierdie onderwerp is nie en dat elkeen sy/haar eie standpunt oor die saak het.

Volgens die Encyclopedia Americana word die bestaan van die hel nie net in die Christendom erken nie maar ook in die Hindu geloof en in lande soos Irak, Iran en Egipte.

Hedendaagse teorieë oor die hel

Aan die liberale kant is daar die wat beweer dat die hel geensins bestaan en dat dit bloot ʼn skrikmaak middel is waarmee mense bang gemaak kan word. In die middel spektrum bestaan die seining dat die hel wel bestaan, maar dat dit nie, soos tradisioneel beskou, daardie plek van ewigdurende vuur, buitenste duisternis, en geween en gekners van tande is nie. Hierdie groep sien die hel meer as ʼn “simbool” van sielewroeging, wanhoop en verwydering van God.

In die konserwatiewe spektrum, wat vandag die minderheid groep is, leef die hel nog steeds voort as die hel waarvan ou dominee Pietie gepreek het.

Vir baie mense wat vandag in ons moderne wêreld leef, het die hel geheel en al verdwyn as ʼn kulturele aanvaarbare opsie in die doktrine van ʼn hiernamaalse ewigheid. Vir diesulkes beteken die woord hel nie veel meer as ʼn vloekwoord nie.

Dit is meestal in die middelgroep waar die betekenis van die hel ʼn metamorfiese verandering ondergaan het. Hierdie veranderinge manifesteer hoofsaaklik as gevolg van twee hedendaagse waardestelsels naamlik (a) die verplasing van vergelding vanuit die ewigheid sfeer na die tydelike sfeer en (b) die verplasing van veroordeling vanuit die Goddelike sfeer na die menslike sfeer. Hierdie groep redeneer hoofsaaklik vanuit die beskouing dat, indien God, ʼn God van liefde is soos die Bybel sê, Hy so ʼn ewigdurende veroordeling nie sal toelaat nie, en tweedens vanweë die juridiese seining dat ʼn sanksie van ewigdurende verdoemenis nie by die oortreding pas nie. “The punishment does not fit the crime”

Die konserwatiewe beskouing van die hel het sedert die vroegste tye nie veel verandering ondergaan nie. Vir hierdie (minderheid) groep, bestaan die  siening van die hel nog altyd as daardie ewigdurende vuur waar daar ʼn geween en gekners van tande sal wees.

Terwyl elkeen van ons sy/haar persoonlike persepsie van die hel het, glo ek dat elkeen van ons oor ʼn lysie name beskik van dié wat ons graag in die hel sou wou sien!  Terselfdertyd glo ek egter ook dat niemand van ons regtig die begeerte koester om daardie objek van ons gramskap, vir ewig verdoem te sien nie. (Hulle moet net so bietjie “suffer”)

Hier het ons egter weereens te make met die drie dimensionele bestaan-sfeer van die mens naamlik: tyd, ruimte, en oorsaak en gevolg. In die hiernamaals sal die mens nie meer onderworpe aan hierdie dimensies wees nie aangesien daar in die Goddelike sfeer geen tyd, of ruimte, of oorsaak en gevolg bestaan nie. 

Ons menslike begrip van die ewigheid word deur die menslike beperkende dimensie van tyd gevorm, terwyl daar in die hiernamaals geen tyd bestáán nie.

Uit die voorgaande beskouings van die hel kan ons gevolglik die drie hoof strominge definieer as:

1. ʼn Proposisionele of problematiese beskouing
2. ʼn Ekspressionistiese (uiting van my ervaring) beskouing
3. ʼn Tradisioneel kategetiese of kulturele beskouing.

Die proposisionele beskouing sien die hel bloot as ʼn ontologiese verskynsel in die Godsdienstige ontwikkeling van die mens, terwyl die moderne ekspressionistiese beskouing van die beginsel uitgaan dat daar wel iets soos ʼn hel bestaan, maar dat die tradisionele siening van die hel onversoenbaar is met die beeld van God soos Hy dit aan die mens openbaar het.

Die onversoenbaarheid is hoofsaaklik as gevolg van die feit dat:
1. Die hel onversoenbaar is met God se liefde
2. Die hel is onversoenbaar met God se regverdigheid
3. Die hel is onversoenbaar met God se almag.

Die proposisioniste redeneer dat ʼn God van liefde geen mens aan so ʼn verdoemenis sal onderwerp nie; dat die regverdigheid van God niemand tot so ʼn onbillike straf sal veroordeel nie en laastens dat die menigtes wat in so ʼn hel sal beland, in werklikheid daarop sal dui dat God nie daarin kon slaag om al Sy skepsels aan Sy wil te onderwerp nie.

Die ironie van die vraag, hoe kan ʼn God van liefde, mense tot ʼn ewige foltering en pyniging veroordeel, wys net weereens op die ego-sentrisiteit van die mens se beskouings. “Hoe kan God so iets doen?, want eintlik is ek maar net ʼn mens!” Die vraag behoort eerder te wees “Hoe kan ʼn méns hierdie aanbod van God, van onverdiende genade en ʼn lewe van ewige saligheid by Hom, in werklikheid in Sy gesig, teruggooi?” God is nie die “bad guy” nie, die mens is!

Die ekspressionistiese groep redeneer weer dat terwyl daar wel iets soos ʼn hel bestaan, almal uiteindelik in die Hemel sal op eindig. Hierdie opvatting, wat ook gelei het tot die ontstaan van die begrip van ʼn “vagevuur” (ʼn plek waar almal wat gesondig het eers sal beland voordat hulle Hemel toe kan gaan)  is hoofsaaklik geskoei op die teologie dat God ʼn God van liefde is; dat Christus vir alle mense gesterf, ook die sondaars, en dat God alle dinge nuut sal maak. In hierdie nuutheid kan daar gevolglik ook nie meer ʼn hel bestaan nie aangesien die gevólg van die sonde vir ewig sal voortbestaan.

Die bestaan van ʼn “vagevuur” as ʼn “halfweghuis” of plek van suiwering, word vandag veral in die Katolieke teologie sterk ondersteun. 

Die Nuwe Testamentiese beskouing

Die ekspressionistiese siening is in wese gebaseer op die prediking van Paulus in Rom. 5: 18 “Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal.” asook 1 Kor. 15: 22  “Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.  En dan in Kol. 1: 20 “ … Deur die bloed van Sy seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. “

Die groot verskil tussen die ekspressionistiese siening en die proposisionele benadering is dat, terwyl die proposisioniste die bestaan van die hel as ʼn werklikheid geheel en al verwerp, erken die ekspressioniste die bestaan van ʼn “vooraf-hel” (vagevuur), waar almal ʼn tweede kans gegun sal word om van die ewige verdoemenis gered te word.

In die Hebreeuse vertaling van die Bybel bestaan daar in werklikheid drie begrippe vir die hel. Die eerste is die woord “sheol” in die Ou Testament en “hades”  in die Nuwe Testament, wat beide verwys na die graf. Die tydelike verblyf van die siel in die onderwêreld (doderyk). Die woord “gehenna”  in die Nuwe Testament verwys egter na daardie plek waar beide die siel en liggaam in ʼn onblusbare vuur gewerp sal word.

In Matt. 10: 28 word die woord “gehenna” gebruik in: “Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.”  Asook in Mark. 9: 43: “… Dit is beter dat jy vermink in die lewe ingaan as dat jy al twee jou hande het en na die hel toe gaan, in die onblusbare vuur.”

Die Griekse woord “ταρταρῶ”  (tartarō) verskyn net eenmaal in die Nuwe Testament in 2 Petr. 2: 4 “God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel.” Die Griekse woord “tertarō” en die Hebreeuse woord “hades” het dus dieselfde betekenis en van daar dan ook die ekspressionistiese konsep dat daar ʼn vooraf hel of “onderwêreld” bestaan, waar die dooies vertoef tot en met die oordeelsdag.

Erkenning van die bestaan van die hel as ʼn plek waarheen elkeen wat hom- of haarself nie tot God bekeer en lewe volgens Sy opdragte nie, uitgewerp sal word om daar vir ewig gefolter en gemartel te word, loop soos die spreekwoordelike goue draad dwarsdeur die Bybel. Vanaf die val van Adam en Eva in die Tuin van Eden, deur die Ou- en Nuwe Testament tot by Openbaring. 

In die Nuwe Testament val die klem hoofsaaklik op redding en die ewige lewe. Saam met die Ou Testament, wat hoofsaaklik handel oor die skepping, voorgeskiedenis, die Wet van God en die geskiedenis van Israel tot met die koms van Jesus, vorm die Bybel dus ʼn ononderbroke kontinuum wat begin by die skepping en eindig by die lewe saam met Jesus in die ewige hiernamaals.

Vir die mens op aarde bestaan daar net één aardse lewe, wat begin by geboorte en eindig op die oomblik van sterfte en almal weet dat hierdie lewe maar uiters kort is; “hoogstens tagtig jaar vir hulle wat sterk is.” Dood is die enigste absolute sekerheid in hierdie lewe. Die dood is gevolglik ook die absolute spertyd vir die mens om berou oor sy sondes te hê en om hom/haar tot Jesus te bekeer.

In die Nuwe Testament, maar veral in die evangelies van Matteus, Markus en Lukas, bestaan daar talle verwysings na die hel as “gehenna”, daardie plek waar beide die liggaam en die siel in die ewige vuur gewerp sal word.  Lees maar Matt. 5: 27-29; 7: 13-14, 19, 21-23; 8: 10:12; 10: 26-28; 18: 6-9; 19: 28-30; 20: 16; 21: 31-32, 43; 22: 1-14; 24:31, 45-51; 25.  Markus 9: 42-48; 10: 29-31.  Lukas 8: 16-18; 10: 13-15; 12: 4-5, 35-48; 13: 22-30. Daar bestaan in werklikheid meer verwysings in die Bybel na die hel, as wat daar verwysings na die hemel bestaan!

Jesus sou verseker nie so baie na die hel verwys het as daar nie ʼn hel bestaan nie! God maak nie leë beloftes nie sal ons ook nie waarsku teen ʼn gevaar wat nie bestaan nie.
Paulus het nooit die woord “gehenna”   gebruik nie en net op een plek gebruik hy die woord “hades”  en dit is in 1 Kor. 15: 54-55, as hy sê: “En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word.”  Wanneer ons die sendbriewe van Paulus lees, dan wil dit voorkom dat, alhoewel hy in die bestaan van “hades” (vagevuur) geglo het, hy in werklikheid die totale uitwissing of verdelging van die sondige en veroordeelde mens (siel en liggaam), verkies het. Amper iets soos wanneer ʼn dier doodgaan. Paulus se prediking was deurgaans gefokus op die positiewe boodskap van die Bybel, eerder as om tyd en energie af te staan aan die negatiewe.

In die Hebreeuse vertaling lees ons ook dat die dood en die doderyk “hades”  in die vuurpoel gewerp is. Openb. 20: 14 (14) “Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel.  (15) As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel (“gehenna” ) gewerp.” Met ander woorde daardie plek waar beide die siel en liggaam in ʼn onblusbare vuur gewerp sal word.

Die siening van die hel in die Ou Testamentiese tyd

Die Ou testament bevat nie naastenby soveel verwysings na die hel as die Nuwe testament nie. Wanneer daar in die Ou- (en Nuwe) Testament ʼn herwaardering vir die bestaan van die hel plaasgevind het, vind ons dat, in tye van verdrukking en vervolging, die kollektiewe Christelike aanvaarding van die hel as ʼn onbetwiste realiteit, baie groter was as in tydperke van relatiewe vrede en voorspoed.

Hierdie phenomena vind ons ook in die tyd van die Rigters, toe Israel telkens in sonde verval en afvallig geraak het en gevolglik in verdrukking en slawerny beland het.  God het dan ʼn Rigter na vore laat kom om die volk weer uit die verdrukking te lei.

In Jesaja 65: 17 voorspel die profeet God se wil as hy sê: “Ek gaan ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie.” en dan in Jes. 66: 24  “Wanneer hulle uit die stad uitgaan, sal hulle die lyke sien van die mense wat hulle teen My verset het. Die wurms wat aan hulle vreet, sal nie vrek nie, en die vuur waarin hulle brand, sal nie geblus word nie; hulle sal iets afgrysliks wees vir al wat leef.”

In die apokriewe boek “Die Openbaring van Paulus”, beskryf die apostel Paulus in verse 60 en 61 hierdie afgryslike tonele in al hulle fisiese werklikheid. (60) En ek het 'n ander man tot by sy knieë gesink gesien in die rivier van vuur; en sy hande was uitgestrek en bebloed, en wurms het uit sy mond en uit sy neusgate gekom, en hy het gekerm en geweeklaag en uitgeroep: Wees my genadig, want ek ly en kry seerder as die res wat in hierdie kastyding verkeer. (61) En ek het gevra: Wie is dit, Here? En hy het aan my gesê: Hy wie jy sien, was 'n diaken wat die offerandes verslind het en hoerery gepleeg het en nie gedoen het wat reg was in die oë van God nie. Daarom betaal hy straf sonder ophou.

As ál die ander voorspellings in die Bybel waar geword presies soos dit voorspel was, hoekom dink mense nog dat hierdie voorspelling nie ook waar sal word nie!? 

Probeer gerus om 'n eksemplaar van die apokriewe boek “Die Openbaring van Paulus”, in die hande te kry. Ek vra egter groot asseblief: Lees dit met die bedoeling om jou begrip en kennis van die Bybel te verbreed, en NIE om wat in die Bybel staan daarmee te vervang nie! Die apokriewe boeke is nie “bybels” nie, maar gee bloot vir ons addisionele inligting waarmee ons die Bybel en die skrywers daarvan, beter kan verstaan. 

In Openbaring 22: 18-19 staan daar: “ (18) Ek betuig aan almal wat die woorde van hierdie profetiese boek hoor: ‘As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; (19) en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is.” 

So staan daar ook in Spreuke 30: 5-6 “ (5)  Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil. (6)  Moet niks byvoeg by wat Hy gesê het nie; Hy sal jou bestraf, en jy sal daar staan as ʼn leuenaar.”

Die siening van die hel in die postmoderne tydvak

Die postmoderne tyd verwys na die tydvak wat aan die einde van die twintigste eeu aangebreek het en waarin ons vandag steeds leef. Die moderne tyd verwys na die tydperk vanaf laat 1800 tot met die einde van die 20e eeu. 

Die oplewing van die hel as ʼn fisiese werklikheid in tye van verdrukking vind ons ook in die post-moderne tyd. Waar daar nie ʼn bedreiging van die Christelike waardes en norme sisteme bestaan nie, vervaag die erkenning van die hel as ʼn werklikheid. Die oomblik wanneer die  Christelike waarde en norme sisteme bedreig word, volg daar byna onmiddellik ʼn herlewing van die siening van die hel as ʼn fisiese werklikheid, plaas.

Voor 1961 het politieke onmin, Engelse oorheersing en die bedreiging van die swart bevolking in Suid Afrika, predikers soos ons Ds. Pietie, genoop om met groot drif en oortuiging oor die bestaan van die hel te preek. Soos wat Suid Afrika, ná Republiekwording, vir die blanke Christendom ʼn al hoe veiliger hawe geword het, het die beheptheid met die hel stelselmatig afgeneem tot en met 1994, toe die ANC regering aan bewind gekom het. Kommunisties geïnspireerde waardes en norme en die ontstaan van ʼn sterk Afrosentriese bewuswording, het die debat oor die bestaan van die hel opnuut weer onder die blanke bevolking laat opvlam.   

Die grootste miskenning van die hel as onbetwiste werklikheid, vind ons vandag in Amerika. Talle “anti-hel” geskrifte verskyn bykans daagliks vanuit Amerika op die internet. Tydens die koue oorlog tussen Amerika en Rusland, was daar nie naastenby soveel “anti-hel” aktiviste as wat daar vandag is nie. Inteendeel talle Amerikaanse evangeliste soos Dr. Billy Graham en andere, het gereeld oor die werklikheid van die hel gepreek. Dit was juis Dr. Billy Graham wat in ʼn onderhoud met die tydskrif “Time” gesê het: “The only thing I could say for sure is that hell means separation from God…When it comes to a literal fire, I don’t preach it because I’m not sure about it.”

Dit wil dus voorkom dat wanneer daar ʼn gevoel by enige bevolkingsgroep ontstaan dat die heersende (menslike) geregtigheid norme en waardes nie meer voldoen aan  die eise van hulle (onaanvaarbare) juridiese waardes en norme van geregtigheid nie, die hel as ʼn meer aanvaarbare “regverdige” teologiese alternatief vir ʼn regverdige juridiese waardestelsel, gesien word. Sou sekere van die onregpleger gevolglik vir die een of ander rede aan die menslike geregtigheid ontsnap, dan wag die Goddelike geregtigheid nog steeds op hulle in die hiernamaals. Daar ontstaan dus ʼn siening dat, sou daar nie iets soos die hel bestaan nie, die moontlikheid van ʼn finale oordeel ook sal wegval.

Die ironie van hierdie verskynsel is die feit dat dieselfde argumente en teorieë wat deur die “pro-hel” en “anti-hel” kampvegters voorgehou word, net so op die bestaan of nie van die hemel en ʼn ewige lewe by Jesus, van toepassing gemaak kan word. Op dieselfde gronde wat die bestaan of nie van die hel beredeneer word, net so kan die bestaan of nie van die hemel ook mos beredeneer word!

Die gevolg is dat dit nie moontlik is om die hel uit die teologie weg te redeneer, sonder om terselfdertyd ook die bestaan van die hemel in die proses te vernietig nie.

Dit laat ons ten slotte met die suiwer juridiese beginsel naamlik, dat die hemel en die hel “sine qua non”  is. Die een is ʼn onafskeidbare deel van die ander; die een kan nie sonder die ander bestaan nie. 

In die lig van al hierdie oorweldigende getuies kan ons gevolglik nou tot ʼn slotsom kom:

Ø       Die versinsel dat daar geheel en al nie ʼn hel bestaan nie, kan ons maar met groot sekerheid verwerp aangesien God nooit sal lieg nie.
Ø       Aanvaarding van die teorie dat daar ʼn “vooraf hel” of vagevuur ( ʼn plek van suiwering) bestaan is sekerlik moontlik, behalwe vir die feit dat hierdie teorie nie vir ons ʼn duidelike antwoord bied op wat gaan gebeur wanneer die vagevuur, (doderyk, “hades”) saam met dié wie se name nie in die boek van die lewe staan nie, óók in die “vuurpoel” gewerp sal word. (Openb. 20: 14)
Ø       Dit laat ons met net een versekerde en onfeilbare alternatief en dit is dat die hel, in al sy verskriklike werklikheid, bestaan en ʼn onbetwiste realiteit vir almal behoort te wees.

In 2 Kor. 12: 1-5 vertel Paulus hoe hy na die derde hemel weggeruk is en daar goed gehoor het wat ʼn mens nie kan beskryf nie. In die apokriewe boek “Die Openbaring van Paulus”, skryf die outeur van die boek onder andere hoe God vir Paulus die hel gewys het. Hiervolgens het Paulus ʼn “kokende rivier” gesien met baie mans en vrouens wat daarin gegooi is. Hy het nog ʼn rivier gesien, die “rivier van vuur”, met baie siele wat dáárin gegooi is. Verder in die openbaring word die afgryslike omstandighede van dié wat in hierdie twee helse-riviere gegooi was, in grafiese detail beskryf.

Elke persoon wat nog in die bestaan van ʼn hel (of vir dieselfde rede ook die hemel) twyfel, behoort vir homself of haarself die vraag af te vra: “Wat as ek verkeerd is? “

As jy reg is in jou oortuiging dat daar nie iets soos ʼn hel (of hemel) bestaan nie, gaan daar in werklikheid niks met jou gebeur nie! Daar kán niks met jou gebeur nie, so wat het jy nou eintlik verloor?

MAAR WAT AS JY VERKEERD IS?



No comments:

Post a Comment