Tuesday, June 2, 2015

BESTAAN DAAR NOG IETS SOOS DIE HEL




BESTAAN DAAR NOG IETS SOOS DIE HEL


                                                              Stes de Necker


Inleiding

As koshuis kind op skool in Bloemfontein, het ons onder die De Bloem gemeente van die NG Kerk geval. De Bloem was die kerk van die legendariese Ds. Pietie Coetzee wat met soveel geesdrif en vurigheid kon preek dat die Kanselbybel bykans elke Sondag op die vloer beland het.

Een van ou dominee se gewilde onderwerpe waaroor hy gereeld gepreek het, was ons koshuisseuns se voorbestemming tot die hel indien ons onsself nie tot bekering kry nie.

In die hedendaagse bediening wil dit voorkom of die hel intussen verdwyn het sonder dat iemand ons daarvan gesê het!

Vir meeste mense het die hel vandag ʼn teoretiese onderwerp geword en in die teologie word hierdie onderwerp, in meeste Gereformeerde kerke, eerder vermy.

As ʼn mens egter kyk na die aantal nuwe publikasies wat oor die bestaan al dan nie van die hel verskyn, wil dit voorkom of hierdie onderwerp vandag weer herlewe in die Godsdienstig beskouings van baie mense. 

Uit hierdie publikasies is dit ook duidelik dat nie almal eenstemmig oor hierdie onderwerp is nie en dat elkeen sy/haar eie standpunt oor die saak het.

Volgens die Encyclopedia Americana word die bestaan van die hel nie net in die Christendom erken nie maar ook in die Hindu geloof en in lande soos Irak, Iran en Egipte.

Hedendaagse teorieë oor die hel

Aan die liberale kant is daar die wat beweer dat die hel geensins bestaan en dat dit bloot ʼn skrikmaak middel is waarmee mense bang gemaak kan word. In die middel spektrum bestaan die seining dat die hel wel bestaan, maar dat dit nie, soos tradisioneel beskou, daardie plek van ewigdurende vuur, buitenste duisternis, en geween en gekners van tande is nie. Hierdie groep sien die hel meer as ʼn “simbool” van sielewroeging, wanhoop en verwydering van God.

In die konserwatiewe spektrum, wat vandag die minderheid groep is, leef die hel nog steeds voort as die hel waarvan ou dominee Pietie gepreek het.

Vir baie mense wat vandag in ons moderne wêreld leef, het die hel geheel en al verdwyn as ʼn kulturele aanvaarbare opsie in die doktrine van ʼn hiernamaalse ewigheid. Vir diesulkes beteken die woord hel nie veel meer as ʼn vloekwoord nie.

Dit is meestal in die middelgroep waar die betekenis van die hel ʼn metamorfiese verandering ondergaan het. Hierdie veranderinge manifesteer hoofsaaklik as gevolg van twee hedendaagse waardestelsels naamlik (a) die verplasing van vergelding vanuit die ewigheid sfeer na die tydelike sfeer en (b) die verplasing van veroordeling vanuit die Goddelike sfeer na die menslike sfeer. Hierdie groep redeneer hoofsaaklik vanuit die beskouing dat, indien God, ʼn God van liefde is soos die Bybel sê, Hy so ʼn ewigdurende veroordeling nie sal toelaat nie, en tweedens vanweë die juridiese seining dat ʼn sanksie van ewigdurende verdoemenis nie by die oortreding pas nie. “The punishment does not fit the crime”

Die konserwatiewe beskouing van die hel het sedert die vroegste tye nie veel verandering ondergaan nie. Vir hierdie (minderheid) groep, bestaan die  siening van die hel nog altyd as daardie ewigdurende vuur waar daar ʼn geween en gekners van tande sal wees.

Terwyl elkeen van ons sy/haar persoonlike persepsie van die hel het, glo ek dat elkeen van ons oor ʼn lysie name beskik van dié wat ons graag in die hel sou wou sien!  Terselfdertyd glo ek egter ook dat niemand van ons regtig die begeerte koester om daardie objek van ons gramskap, vir ewig verdoem te sien nie. (Hulle moet net so bietjie “suffer”)

Hier het ons egter weereens te make met die drie dimensionele bestaan-sfeer van die mens naamlik: tyd, ruimte, en oorsaak en gevolg. In die hiernamaals sal die mens nie meer onderworpe aan hierdie dimensies wees nie aangesien daar in die Goddelike sfeer geen tyd, of ruimte, of oorsaak en gevolg bestaan nie. 

Ons menslike begrip van die ewigheid word deur die menslike beperkende dimensie van tyd gevorm, terwyl daar in die hiernamaals geen tyd bestáán nie.

Uit die voorgaande beskouings van die hel kan ons gevolglik die drie hoof strominge definieer as:

1. ʼn Proposisionele of problematiese beskouing
2. ʼn Ekspressionistiese (uiting van my ervaring) beskouing
3. ʼn Tradisioneel kategetiese of kulturele beskouing.

Die proposisionele beskouing sien die hel bloot as ʼn ontologiese verskynsel in die Godsdienstige ontwikkeling van die mens, terwyl die moderne ekspressionistiese beskouing van die beginsel uitgaan dat daar wel iets soos ʼn hel bestaan, maar dat die tradisionele siening van die hel onversoenbaar is met die beeld van God soos Hy dit aan die mens openbaar het.

Die onversoenbaarheid is hoofsaaklik as gevolg van die feit dat:
1. Die hel onversoenbaar is met God se liefde
2. Die hel is onversoenbaar met God se regverdigheid
3. Die hel is onversoenbaar met God se almag.

Die proposisioniste redeneer dat ʼn God van liefde geen mens aan so ʼn verdoemenis sal onderwerp nie; dat die regverdigheid van God niemand tot so ʼn onbillike straf sal veroordeel nie en laastens dat die menigtes wat in so ʼn hel sal beland, in werklikheid daarop sal dui dat God nie daarin kon slaag om al Sy skepsels aan Sy wil te onderwerp nie.

Die ironie van die vraag, hoe kan ʼn God van liefde, mense tot ʼn ewige foltering en pyniging veroordeel, wys net weereens op die ego-sentrisiteit van die mens se beskouings. “Hoe kan God so iets doen?, want eintlik is ek maar net ʼn mens!” Die vraag behoort eerder te wees “Hoe kan ʼn méns hierdie aanbod van God, van onverdiende genade en ʼn lewe van ewige saligheid by Hom, in werklikheid in Sy gesig, teruggooi?” God is nie die “bad guy” nie, die mens is!

Die ekspressionistiese groep redeneer weer dat terwyl daar wel iets soos ʼn hel bestaan, almal uiteindelik in die Hemel sal op eindig. Hierdie opvatting, wat ook gelei het tot die ontstaan van die begrip van ʼn “vagevuur” (ʼn plek waar almal wat gesondig het eers sal beland voordat hulle Hemel toe kan gaan)  is hoofsaaklik geskoei op die teologie dat God ʼn God van liefde is; dat Christus vir alle mense gesterf, ook die sondaars, en dat God alle dinge nuut sal maak. In hierdie nuutheid kan daar gevolglik ook nie meer ʼn hel bestaan nie aangesien die gevólg van die sonde vir ewig sal voortbestaan.

Die bestaan van ʼn “vagevuur” as ʼn “halfweghuis” of plek van suiwering, word vandag veral in die Katolieke teologie sterk ondersteun. 

Die Nuwe Testamentiese beskouing

Die ekspressionistiese siening is in wese gebaseer op die prediking van Paulus in Rom. 5: 18 “Soos een oortreding gelei het tot veroordeling vir alle mense, so het een daad van gehoorsaamheid dus ook gelei tot vryspraak en lewe vir almal.” asook 1 Kor. 15: 22  “Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.  En dan in Kol. 1: 20 “ … Deur die bloed van Sy seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen. “

Die groot verskil tussen die ekspressionistiese siening en die proposisionele benadering is dat, terwyl die proposisioniste die bestaan van die hel as ʼn werklikheid geheel en al verwerp, erken die ekspressioniste die bestaan van ʼn “vooraf-hel” (vagevuur), waar almal ʼn tweede kans gegun sal word om van die ewige verdoemenis gered te word.

In die Hebreeuse vertaling van die Bybel bestaan daar in werklikheid drie begrippe vir die hel. Die eerste is die woord “sheol” in die Ou Testament en “hades”  in die Nuwe Testament, wat beide verwys na die graf. Die tydelike verblyf van die siel in die onderwêreld (doderyk). Die woord “gehenna”  in die Nuwe Testament verwys egter na daardie plek waar beide die siel en liggaam in ʼn onblusbare vuur gewerp sal word.

In Matt. 10: 28 word die woord “gehenna” gebruik in: “Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.”  Asook in Mark. 9: 43: “… Dit is beter dat jy vermink in die lewe ingaan as dat jy al twee jou hande het en na die hel toe gaan, in die onblusbare vuur.”

Die Griekse woord “ταρταρῶ”  (tartarō) verskyn net eenmaal in die Nuwe Testament in 2 Petr. 2: 4 “God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel.” Die Griekse woord “tertarō” en die Hebreeuse woord “hades” het dus dieselfde betekenis en van daar dan ook die ekspressionistiese konsep dat daar ʼn vooraf hel of “onderwêreld” bestaan, waar die dooies vertoef tot en met die oordeelsdag.

Erkenning van die bestaan van die hel as ʼn plek waarheen elkeen wat hom- of haarself nie tot God bekeer en lewe volgens Sy opdragte nie, uitgewerp sal word om daar vir ewig gefolter en gemartel te word, loop soos die spreekwoordelike goue draad dwarsdeur die Bybel. Vanaf die val van Adam en Eva in die Tuin van Eden, deur die Ou- en Nuwe Testament tot by Openbaring. 

In die Nuwe Testament val die klem hoofsaaklik op redding en die ewige lewe. Saam met die Ou Testament, wat hoofsaaklik handel oor die skepping, voorgeskiedenis, die Wet van God en die geskiedenis van Israel tot met die koms van Jesus, vorm die Bybel dus ʼn ononderbroke kontinuum wat begin by die skepping en eindig by die lewe saam met Jesus in die ewige hiernamaals.

Vir die mens op aarde bestaan daar net één aardse lewe, wat begin by geboorte en eindig op die oomblik van sterfte en almal weet dat hierdie lewe maar uiters kort is; “hoogstens tagtig jaar vir hulle wat sterk is.” Dood is die enigste absolute sekerheid in hierdie lewe. Die dood is gevolglik ook die absolute spertyd vir die mens om berou oor sy sondes te hê en om hom/haar tot Jesus te bekeer.

In die Nuwe Testament, maar veral in die evangelies van Matteus, Markus en Lukas, bestaan daar talle verwysings na die hel as “gehenna”, daardie plek waar beide die liggaam en die siel in die ewige vuur gewerp sal word.  Lees maar Matt. 5: 27-29; 7: 13-14, 19, 21-23; 8: 10:12; 10: 26-28; 18: 6-9; 19: 28-30; 20: 16; 21: 31-32, 43; 22: 1-14; 24:31, 45-51; 25.  Markus 9: 42-48; 10: 29-31.  Lukas 8: 16-18; 10: 13-15; 12: 4-5, 35-48; 13: 22-30. Daar bestaan in werklikheid meer verwysings in die Bybel na die hel, as wat daar verwysings na die hemel bestaan!

Jesus sou verseker nie so baie na die hel verwys het as daar nie ʼn hel bestaan nie! God maak nie leë beloftes nie sal ons ook nie waarsku teen ʼn gevaar wat nie bestaan nie.
Paulus het nooit die woord “gehenna”   gebruik nie en net op een plek gebruik hy die woord “hades”  en dit is in 1 Kor. 15: 54-55, as hy sê: “En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word.”  Wanneer ons die sendbriewe van Paulus lees, dan wil dit voorkom dat, alhoewel hy in die bestaan van “hades” (vagevuur) geglo het, hy in werklikheid die totale uitwissing of verdelging van die sondige en veroordeelde mens (siel en liggaam), verkies het. Amper iets soos wanneer ʼn dier doodgaan. Paulus se prediking was deurgaans gefokus op die positiewe boodskap van die Bybel, eerder as om tyd en energie af te staan aan die negatiewe.

In die Hebreeuse vertaling lees ons ook dat die dood en die doderyk “hades”  in die vuurpoel gewerp is. Openb. 20: 14 (14) “Toe is die dood en die doderyk in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel.  (15) As daar gevind is dat iemand se naam nie in die boek van die lewe geskrywe staan nie, is hy in die vuurpoel (“gehenna” ) gewerp.” Met ander woorde daardie plek waar beide die siel en liggaam in ʼn onblusbare vuur gewerp sal word.

Die siening van die hel in die Ou Testamentiese tyd

Die Ou testament bevat nie naastenby soveel verwysings na die hel as die Nuwe testament nie. Wanneer daar in die Ou- (en Nuwe) Testament ʼn herwaardering vir die bestaan van die hel plaasgevind het, vind ons dat, in tye van verdrukking en vervolging, die kollektiewe Christelike aanvaarding van die hel as ʼn onbetwiste realiteit, baie groter was as in tydperke van relatiewe vrede en voorspoed.

Hierdie phenomena vind ons ook in die tyd van die Rigters, toe Israel telkens in sonde verval en afvallig geraak het en gevolglik in verdrukking en slawerny beland het.  God het dan ʼn Rigter na vore laat kom om die volk weer uit die verdrukking te lei.

In Jesaja 65: 17 voorspel die profeet God se wil as hy sê: “Ek gaan ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde skep; aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie.” en dan in Jes. 66: 24  “Wanneer hulle uit die stad uitgaan, sal hulle die lyke sien van die mense wat hulle teen My verset het. Die wurms wat aan hulle vreet, sal nie vrek nie, en die vuur waarin hulle brand, sal nie geblus word nie; hulle sal iets afgrysliks wees vir al wat leef.”

In die apokriewe boek “Die Openbaring van Paulus”, beskryf die apostel Paulus in verse 60 en 61 hierdie afgryslike tonele in al hulle fisiese werklikheid. (60) En ek het 'n ander man tot by sy knieë gesink gesien in die rivier van vuur; en sy hande was uitgestrek en bebloed, en wurms het uit sy mond en uit sy neusgate gekom, en hy het gekerm en geweeklaag en uitgeroep: Wees my genadig, want ek ly en kry seerder as die res wat in hierdie kastyding verkeer. (61) En ek het gevra: Wie is dit, Here? En hy het aan my gesê: Hy wie jy sien, was 'n diaken wat die offerandes verslind het en hoerery gepleeg het en nie gedoen het wat reg was in die oë van God nie. Daarom betaal hy straf sonder ophou.

As ál die ander voorspellings in die Bybel waar geword presies soos dit voorspel was, hoekom dink mense nog dat hierdie voorspelling nie ook waar sal word nie!? 

Probeer gerus om 'n eksemplaar van die apokriewe boek “Die Openbaring van Paulus”, in die hande te kry. Ek vra egter groot asseblief: Lees dit met die bedoeling om jou begrip en kennis van die Bybel te verbreed, en NIE om wat in die Bybel staan daarmee te vervang nie! Die apokriewe boeke is nie “bybels” nie, maar gee bloot vir ons addisionele inligting waarmee ons die Bybel en die skrywers daarvan, beter kan verstaan. 

In Openbaring 22: 18-19 staan daar: “ (18) Ek betuig aan almal wat die woorde van hierdie profetiese boek hoor: ‘As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; (19) en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is.” 

So staan daar ook in Spreuke 30: 5-6 “ (5)  Elke belofte van God is betroubaar; Hy beskerm dié wat by Hom skuil. (6)  Moet niks byvoeg by wat Hy gesê het nie; Hy sal jou bestraf, en jy sal daar staan as ʼn leuenaar.”

Die siening van die hel in die postmoderne tydvak

Die postmoderne tyd verwys na die tydvak wat aan die einde van die twintigste eeu aangebreek het en waarin ons vandag steeds leef. Die moderne tyd verwys na die tydperk vanaf laat 1800 tot met die einde van die 20e eeu. 

Die oplewing van die hel as ʼn fisiese werklikheid in tye van verdrukking vind ons ook in die post-moderne tyd. Waar daar nie ʼn bedreiging van die Christelike waardes en norme sisteme bestaan nie, vervaag die erkenning van die hel as ʼn werklikheid. Die oomblik wanneer die  Christelike waarde en norme sisteme bedreig word, volg daar byna onmiddellik ʼn herlewing van die siening van die hel as ʼn fisiese werklikheid, plaas.

Voor 1961 het politieke onmin, Engelse oorheersing en die bedreiging van die swart bevolking in Suid Afrika, predikers soos ons Ds. Pietie, genoop om met groot drif en oortuiging oor die bestaan van die hel te preek. Soos wat Suid Afrika, ná Republiekwording, vir die blanke Christendom ʼn al hoe veiliger hawe geword het, het die beheptheid met die hel stelselmatig afgeneem tot en met 1994, toe die ANC regering aan bewind gekom het. Kommunisties geïnspireerde waardes en norme en die ontstaan van ʼn sterk Afrosentriese bewuswording, het die debat oor die bestaan van die hel opnuut weer onder die blanke bevolking laat opvlam.   

Die grootste miskenning van die hel as onbetwiste werklikheid, vind ons vandag in Amerika. Talle “anti-hel” geskrifte verskyn bykans daagliks vanuit Amerika op die internet. Tydens die koue oorlog tussen Amerika en Rusland, was daar nie naastenby soveel “anti-hel” aktiviste as wat daar vandag is nie. Inteendeel talle Amerikaanse evangeliste soos Dr. Billy Graham en andere, het gereeld oor die werklikheid van die hel gepreek. Dit was juis Dr. Billy Graham wat in ʼn onderhoud met die tydskrif “Time” gesê het: “The only thing I could say for sure is that hell means separation from God…When it comes to a literal fire, I don’t preach it because I’m not sure about it.”

Dit wil dus voorkom dat wanneer daar ʼn gevoel by enige bevolkingsgroep ontstaan dat die heersende (menslike) geregtigheid norme en waardes nie meer voldoen aan  die eise van hulle (onaanvaarbare) juridiese waardes en norme van geregtigheid nie, die hel as ʼn meer aanvaarbare “regverdige” teologiese alternatief vir ʼn regverdige juridiese waardestelsel, gesien word. Sou sekere van die onregpleger gevolglik vir die een of ander rede aan die menslike geregtigheid ontsnap, dan wag die Goddelike geregtigheid nog steeds op hulle in die hiernamaals. Daar ontstaan dus ʼn siening dat, sou daar nie iets soos die hel bestaan nie, die moontlikheid van ʼn finale oordeel ook sal wegval.

Die ironie van hierdie verskynsel is die feit dat dieselfde argumente en teorieë wat deur die “pro-hel” en “anti-hel” kampvegters voorgehou word, net so op die bestaan of nie van die hemel en ʼn ewige lewe by Jesus, van toepassing gemaak kan word. Op dieselfde gronde wat die bestaan of nie van die hel beredeneer word, net so kan die bestaan of nie van die hemel ook mos beredeneer word!

Die gevolg is dat dit nie moontlik is om die hel uit die teologie weg te redeneer, sonder om terselfdertyd ook die bestaan van die hemel in die proses te vernietig nie.

Dit laat ons ten slotte met die suiwer juridiese beginsel naamlik, dat die hemel en die hel “sine qua non”  is. Die een is ʼn onafskeidbare deel van die ander; die een kan nie sonder die ander bestaan nie. 

In die lig van al hierdie oorweldigende getuies kan ons gevolglik nou tot ʼn slotsom kom:

Ø       Die versinsel dat daar geheel en al nie ʼn hel bestaan nie, kan ons maar met groot sekerheid verwerp aangesien God nooit sal lieg nie.
Ø       Aanvaarding van die teorie dat daar ʼn “vooraf hel” of vagevuur ( ʼn plek van suiwering) bestaan is sekerlik moontlik, behalwe vir die feit dat hierdie teorie nie vir ons ʼn duidelike antwoord bied op wat gaan gebeur wanneer die vagevuur, (doderyk, “hades”) saam met dié wie se name nie in die boek van die lewe staan nie, óók in die “vuurpoel” gewerp sal word. (Openb. 20: 14)
Ø       Dit laat ons met net een versekerde en onfeilbare alternatief en dit is dat die hel, in al sy verskriklike werklikheid, bestaan en ʼn onbetwiste realiteit vir almal behoort te wees.

In 2 Kor. 12: 1-5 vertel Paulus hoe hy na die derde hemel weggeruk is en daar goed gehoor het wat ʼn mens nie kan beskryf nie. In die apokriewe boek “Die Openbaring van Paulus”, skryf die outeur van die boek onder andere hoe God vir Paulus die hel gewys het. Hiervolgens het Paulus ʼn “kokende rivier” gesien met baie mans en vrouens wat daarin gegooi is. Hy het nog ʼn rivier gesien, die “rivier van vuur”, met baie siele wat dáárin gegooi is. Verder in die openbaring word die afgryslike omstandighede van dié wat in hierdie twee helse-riviere gegooi was, in grafiese detail beskryf.

Elke persoon wat nog in die bestaan van ʼn hel (of vir dieselfde rede ook die hemel) twyfel, behoort vir homself of haarself die vraag af te vra: “Wat as ek verkeerd is? “

As jy reg is in jou oortuiging dat daar nie iets soos ʼn hel (of hemel) bestaan nie, gaan daar in werklikheid niks met jou gebeur nie! Daar kán niks met jou gebeur nie, so wat het jy nou eintlik verloor?

MAAR WAT AS JY VERKEERD IS?



Depressie en Selfmoord




Depressie en Selfmoord 


                                                                                                   Stes de Necker

Inleiding

Laat ek sommer uit die staanspoor dit baie duidelik stel dat ek nie ’n  sielkundige en nog minder ’n  dokter is. Maar jare gelede het ek ook deur die hel van depressie gegaan en was dit nie vir die genade van Jesus, sou ek sekerlik nie vandag hier gesit en skryf het nie.  Enigeen wat nog nie deur hierdie siekte getref is nie, sal ook nie weet wat so iemand deurmaak nie. Alle moontlike en onmoontlike negatiewe gedagtes kan so van jou besit neem en jou so aftakel, dat jy naderhand te moeg is om in die oggend op te staan. Jy is fisies bloot eenvoudig nie in staat om uit die bed uit op te staan nie!

Hierdie gedeelte is nie 'n poging om ’n  wetenskaplike verduideliking van die oorsaak en aard van hierdie siekte te gee nie, maar bloot ’n  poging om, van iemand wat self daardeur is se ervaringe te deel met die een wat óf self, (óf iemand ken), wat tans met hierdie toestand worstel. Hierdie hoofstuk is spesiaal vir julle bedoel en glo my as ek vir julle sê, julle het ál my simpatie!

Was daar iets soos depressie in die Bybelse tyd?

Die Bybel is vol verwysings na individue wat óf aan depressie gelei het, óf aanvalle daarvan beleef het.

Abraham ( Gen. 15), Jona (Jona 4), Job (Die boek Job), Elia (1 Kon. 19), Saul (1 Samuel 16: 14-23), Jeremia (Die boek Jeremia) en dan Koning Dawid, vir wie God baie lief was: Psalm 6131823252731323437-4042-4346515562-6369717377848690-9194-95103-104107110116118121123-124130138139141-143146-147.  Lees gerus weer in die besonder Psalm 38. In vers 11 sê Dawid: “My hart jaag, my krag het ingegee, ek kan nie eers meer sien nie.”
Klink dit bekend?

Maar hoor wat sê dieselfde koning Dawid in Psalm 42 en 43: (Vers 12 en 5 respektiewelik) “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n  loflied sing. Hy is my helper en my God.”

In Rom. 15: 13 sê Paulus:  “ Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al  hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees.” Later in Fil. 4: 4-7 sê Paulus “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! (5) Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. (6) Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. (7) En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
Dit lyk amper of Paulus die verlammende gevolge van depressie geken het en daarom alles in sy vermoë gedoen het om sy volgelinge daarteen te waarsku. As daar iemand was wat kwesbaar vir depressie was, dan was dit Paulus.

Ek weet maar te goed dat die heel laaste ding wat iemand wat reeds depressief is, wil hoor, is hoe sleg dit met iemand anders gaan. “Jong, dis nog niks! Wag totdat ek jou vertel wat met mý gebeur het!”  ... asof jy op daardie stadium ’n  duit omgee! Maar hier is die geloofs- reus, Paulus, wat nieteenstaande sy alles oorheersende geloof in Jesus Christus, ernstig daarteen moet stry om nie negatief en depressief te word nie. Hoor wat sê hy in 2 Kor. 11: 21-28:

 “Laat my dan maar tot my skande erken dat ons vir sulke dinge te swak was! ... (23) Is hulle dienaars van Christus? En nou praat ek asof ek van my verstand af is; ek nog meer! Ek het harder gewerk, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. (24) Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van nege en dertig houe gekry, drie maal het ek lyfstraf gekry en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ’n  dag en ’n  nag in die oop see deurgebring. (26) Ek was dikwels op reis en in gevaar; daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van volksgenote en gevare van heidene; gevare in die stad en gevare in die veld; gevare op see en gevare onder vals broers. (27) Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors; en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. (28) Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes. (29) As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is; as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan. (30) As daar dan geroem moet word, sal ek roem, maar dan oor my swakhede.”

Later in 2 Kor. 11: 8 lees ons: “Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Paulus, sekerlik die grootste dissipel van Jesus waarvan ons in die Nuwe Testament kan lees, moes deur onmenslike swaar tye gegaan, maar God het hom nooit verlaat nie; hom nooit in die steek gelaat nie.  Paulus het ook nie “voorkeurbehandeling” ontvang nie! Net soos Daniël en sy vriende in die Ou Testament, het God nie vir Paulus uit sy beproewinge weggeneem nie, maar het Hy sáám met hom daardeur gegaan. God was deurentyd by Paulus; God was deurentyd in beheer!

Wat is depressie

Ons het al gehoor dat depressie in vandag se terme beskryf word as die “gewone verkoue” (common cold) van geestelike ongesteldhede. Wetenskaplikes beweer dat een uit elke 10 mense die een of ander tyd gemoed versteurings ondervind. Suid-Afrika beklee tans die sewende plek op die wêreld ranglys waar die voorkoms van mense met gemoed versteurings die hoogste is.
Gemoed versteuring, wat maar net 'n ander woord vir depressie is, is vandag die derde grootste oorsaak van tienersterftes in Suid-Afrika. 20% van ons jongmense beleef depressie nog voordat hulle volwassenheid bereik!

Ongelukkig word depressie nog steeds nie ernstig genoeg opgeneem nie. Baie jongmense verkeer onder die indruk dat hulle self die druk in hulle lewens kan verwerk, terwyl ander weer onder die wanindruk verkeer om dit as ’n  teken van swakheid te sien as jy erken dat jy nie die druk kan hanteer nie.

Van laerskool af word daar al van ons kinders verwag om teen die snelle pas van die 21ste eeu te beweeg en die arme bloedjie wat nie hiermee kan byhou nie word as ’n  swakkeling of onintelligent beskou. Kinders word vandag nie meer toegelaat om “kind” te wees en nog te speel nie! Prestasie is al wat tel. Skoolkinders leer vandag in graad 4 wat ons ouer geslag eers in graad 9 geleer het! Tyd vir speel bestaan nie meer nie en die bietjie vryetyd wat daar nog mag wees, word op selfone, rekenaarspeletjies en “I-pads” bestee. Geen wonder jongmense stress hulleself vandag dood nie!

Die tragiese hiervan is dat die meeste van ons onderwys leiers en ouers van hierdie toestand bewus is, maar steeds word daar niks hieraan gedoen nie! Inplaas daarvan om die oorsake van die probleem uit die wag te ruim, word daar net meer kinderleiding terapeute by skole aangestel. Die spreekwoordelike puisie op die vel word behandel en nie die dieperliggende oorsaak nie.

Volgens medici bestaan daar verskillend soorte depressie waarvan sekeres deur chemiese wanbalanse in die brein veroorsaak word terwyl ander ’'n diepgaande geestelike oorsprong het. Vir depressie weens Chemiese wanbalanse in die brein bestaan daar vandag uitstekende medikasie en terapie om dit te beheer.  Depressie wat egter 'n diepgaande geestelike oorsprong het, is medikasie alleen nie voldoende nie en benodig dit ook behandeling deur spesialiste op hierdie gebied. Die probleem bly egter dat hierdie siekte baie selde betyds gediagnoseer word. Teen die tyd dat die onderwyser of ouer of vriende begin bekommerd raak, is dit gewoonlik al te laat.

Depressie is 'n komplekse geestelike ongesteldheid wat spesialis aandag verg. Te dikwels word dit bloot afgemaak as maar net deel van die “pubertyd stadium” of “buierigheid”.  Hoe dikwels hoor jy: “Hy/sy is vandag weer in een van sy/haar buie!” 

Die mees algemene vorm van depressie, sogenaamde “reaktiewe depressie”, word veroorsaak deur skielike onbeheerbare veranderinge in ’n  mens se lewe. Hierdie veranderinge plaas die mens onder enorme druk en laat hom uiteindelik totaal uitgeput en uitgebrand.

Tipiese simptome van depressie is:
Ø       'n Onvermoë om te presteer
Ø       Sosiale onttrekking
Ø       Gebrek aan entoesiasme en energie
Ø       Swak selfbeeld
Ø       Oorreaksie op kritiek of negatiewe opmerking oor sy/haar gedrag
Ø       Swak konsentrasie
Ø       Besluiteloosheid
Ø       Angs
Ø       Hulpeloosheid
Ø       Gevoelens van mislukking
Ø       Skuldgevoel

Liewe leser, as jy enige van hierdie simptome in jouself, of in jou kind, of in iemand wat jy ken, waarneem, maak werk daarvan, want óf jyself óf die ander persoon het dringend hulp nodig! Gewoonlik besef die persoon wat alreeds depressief is self nie dat hy/sy hulp nodig het nie.

Depressie verander ’n  mens

In Spreuke 18: 14 staan daar: “Moed laat ’n  mens sy lyding dra; as hy moed verloor het, kan niemand hom dit weer gee nie.”  In die Engelse vertaling staan daar: “The spirit of a man will sustain him in sickness, but  who can bear a broken spirit?”

Enigiemand wat al vasgevang was in die kloue van depressie sal vir jou sê dat depressie ’n  mens verander. Of dit nou ten goede of ten slegste is, maak nie saak nie; een ding is seker, jy sal nie weer dieselfde wees nie.

Een van die beste voorbeelde van depressie in die Bybel vind ons in die verhaal van Job. Job het sy hele familie en alles wat hy besit het, verloor. Satan het Job met die vreeslikste swere getref, sodanig dat sy vriende hom nie eers erken het nie.

Job sit in sak en as en die drie vriende wat hy nog oor het, Elifas, Bildad en Sofar, kan ook maar nie veel doen om Job beter te laat voel nie! Job was oortuig dat selfs God hom verlaat het. In Job 23 vanaf vers 8 sê hy: “Maar gaan ek na die ooste toe, Hy is nie daar nie, na die weste, ek kry Hom nie. (9) Sou Hy in die noorde aan die werk wees, ek vind Hom nie daar nie, sou Hy na die suide toe draai, ek sien Hom nie.”

Selfmoord

In 'n toestand van depressie is dit onmoontlik om rasioneel te dink. Jy sien skaars vir God raak, laat staan nog die positiewe dinge om jou. Dit is dán wanneer jy op jou kwesbaarste is vir Satan se versoekings! Dit is dán wanneer dit vir jou lyk of selfmoord die enigste uitkoms is.

Vir enigeen wat in ’n  ernstige toestand van depressie verkeer is dit niks snaaks om ’n  pistool teen sy/haar kop te druk en die sneller te trek nie. Vra my, ek weet. Toe ek destyds deur dieselfde hel moes gaan, sou ek nie twee maal gedink het om dit te doen nie; Dit was bloot net die genade van onse Here Jesus wat my gekeer het om dit nie te doen nie! 

My liewe vriend of vriendin, selfmoord wás nog nooit, ís nog nooit en sál ook nooit, die oplossing wees nie!

As jy maar net vir ’n  oomblik daaraan dink hoeveel oneindige smart en lyding jy aan hulle wat vir jou omgee, hulle wie jou lief het, sal veroorsaak. As jy weet hoeveel daar is wat jou wil help sal jy verseker nie so ’n  onbesonne daad eers oorweeg nie! Ek besef egter terdeë dat, op daardie oomblik, nie eers die vir wie jy die liefste is, vir jou saak maak nie. Alles draai net om jouself. Hoe jý voel; hoe alleen jý is, hoe sleg dit met joú gaan; hoe min ander joú verstaan; hoe min ander weet wat jý deurmaak.

Selfmoord is in werklikheid nie ’n  daad van uitkoms nie; dit is ’n  daad van selfsugtigheid!  Los die probleme vir die ander, ek gee pad!”

Moet ook nooit dink dat selfmoord lafhartigheid is nie. Allermins! Vir enige mens om, onder normale omstandighede, ’n  pistool te vat en teen sy kop te druk, sal uiters baie moed verg.

Vir die een wat dood is, is dit eintlik maklik. Al sy probleme is opgelos! Maar wat van die wat agterbly. Dink aan die skok, smart, pyn, leiding, selfverwyt en rou wat jy veroorsaak. Is dit wat jy wil doen? Om behalwe jou eie lewe maar ook die van jou geliefdes en vriende se lewens in een oogopslag te verwoes en vir altyd omvêr te werp. Sien jy kans om dit aan hulle te doen?

As jyself nie die een is wat hulp nodig het nie maar iemand wil help wat reeds so vêr gegaan het om selfmoord selfs te oorweeg,  in vaders naam, moet tog nie vir daardie persoon vertel hoe sleg dit met jou ook gaan nie! Dit is die heel laaste ding wat so ’n  persoon op daardie stadium wil hoor. Inplaas daarvan om saam met hom/haar te kerm en te “mope”, doen iets daadwerklik. As dit nodig is, vat hom/haar aan die kraag en sleep so een dokter of hospitaal toe! Daar is mense wat toegerus is met die nodige kennis en toerusting om met sulke gevalle te werk. En onthou ook, ons dokters en verpleegsters is ook deur God geroep om hulle werk te doen en daarom het Hy hulle ook met die nodige verstand en vermoëns beklee sodat hulle mense in nood kan help.

Mense beweer gedurig dat die tyd van wonderwerke verby is, maar die feit dat God mense wat my en jou gesond kan maak, die vermoë gegee het om andere gesond te maak, (met ander woorde dat God self, déúr die dokter of verpleegster, my en jou gesond maak) dit word nie as ’'n wonderwerk
gesien nie!

Wat sê die Bybel oor selfmoord?

In die Bybel lees ons vyf keer van selfmoord:
Die eerste geval is die dood van Simson in Rigters 16: 23-31. Simson bevind hom tussen twee pilare van 'n tempel van die Filistyne, en roep tot God om hom weer die krag te gee sodat hy die Filistyne kan vernietig. God verhoor sy gebed en baie Filistyne sterf saam met Simson toe hy die pilare met sy brute krag breek en die gebou op die Filistyne ineenstort. Nêrens in die Ou Testament lees ons dat Simson veroordeel is vir hierdie “selfmoord” nie.

Tweedens lees ons van Koning Saul, soos ons dit vind in 1 Samuel 31: 1-13 en 1 Kronieke 10: 1-14. Saul is besig om die geveg te verloor en vra sy swaarddraer om hom eerder dood te maak as dat hy lewend in die hande van sy vyand val. Toe Saul se swaarddraer weier om hom dood te maak, val Saul in sy eie swaard. Toe die kneg besef Saul is dood, doen hy dieselfde. Weereens lees ons nie dat daar enige oordeel oor hulle uitgespreek word nie.

Derdens lees ons van Agitofel in 2 Samuel 17: 23 wat Absalom moes adviseer, maar toe Absalom nie na sy advies luister nie, keer hy teug na sy huis en neem sy eie lewe.

Vierdens lees ons van Koning Simri, wat bekend was vir die feit dat hy net sewe dae Koning was. Simri verneem dat sy mense besig is om die stad in te neem, om die dood van hulle vorige koning op hom te wreek. Hy vlug na 'n veilige deel van sy paleis, steek dit aan die brand en sterf self ook in die brand. Die Bybel praat op verskillende plekke van Simri se sondes, maar sy selfmoord word nie as sonde aangespreek nie.

Vyfdens lees ons van Judas wat Jesus verraai het en dan probeer om dit reg te maak deur die geld terug te gee aan die priesters. (Mat. 27: 3-10 en Handelinge 1: 12-20.) Wanneer hy besef dat hy nie kan regmaak wat hy verbrou het nie, hang hy homself op. Judas se selfverwyt was so groot, dat hy homself eerder doodmaak as om met sy berou te moet saamleef.

In geen van die bogenoemde voorbeelde, lees ons dat die persone veroordeel is as gevolg van hulle daad nie.

God het ’n  plan vir ons lewens. Jer. 29: 11 “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil julle ’'n toekoms gee, ’n  verwagting!”

Wat sê Job in Hfst. 23: 10? “As hy my toets is ek suiwer soos goud.” In Psalm 27: 14 sê Dawid: “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!

Meeste van jou gevoelens van wanhoop en moedeloosheid word deur Satan se leuens veroorsaak. Wanneer jy op jou mees kwesbaarste is, is dit wanneer Satan vir sê: “jy is ʼn mislukking; dit is jou skuld dat dit met jou gaan soos dit gaan; jy woú mos;  niemand kan jou nou meer help nie; daar is nie nog ʼn mens wat so swaar soos jy het nie.”  En dan die grootste leuen van almal: “daar bestaan vir jou geen uitkoms meer nie!”  

In Joh. 8: 44 sê die apostel: “Hy (die duiwel) was van die begin af ʼn moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie.”

In Rom.  6: 21 vra Paulus: “Wat was die vrug van die dinge waaroor julle nou skaam kry. (wat het dit vir julle opgelewer?)  Die uiteinde van dié dinge is die dood.”  en dan in vers 23 sê hy: “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.”

In 1 Joh. 3: 8 het ons gelees: “En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.”

Ons lewens behoort aan God en is nie ons s’n om daarmee te maak soos ons goeddink nie. By so baie mense en veral jong mense, bestaan daar vandag die totale wanopvatting van: “Dit is my lewe, ek sal maak soos ek wil!” en asof dit nie genoeg is nie, is daar nog die verdere mistasting dat: “Ek kan self regkom, ek het niemand nodig nie!”

In 1 Kor. 6: 19 se Paulus: “... besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang en julle behoort nie aan julleself nie; Julle is gekoop en die prys is betaal.”

Liewe vriend of vriendin, jou lewe behoort NIE aan jouself nie en jy kan NIE alleen regkom nie!

Jou lewe behoort aan Christus en jy kan NIE sonder Sy hulp regkom nie!

Kan iemand wat selfmoord pleeg hemel toe  gaan?

Reeds in die 5e eeu  n.C. het die kerkvader Augustinus gesê dat selfmoord sonde is aangesien jy “nie mag doodslaan nie.” Later het een van die groot leiers van die Katolieke kerk, Thomas Aquinas, sovêr gegaan om te beweer dat selfmoord een van die “dood sondes” (cardinal sins) van hierdie wêreld is.

Om bloot eenvoudig aan te neem dat aangesien die Tien Gebooie sê jy mag nie doodslaan nie, dit terselfdertyd van toepassing te maak op selfmoord, klink vir my maar redelik aanmatigend. Ek stem saam dat ons lewens nie aan onsself behoort nie maar aan God wat ons Sy lewegewende Gees gegee het. Ons het gevolglik nie die rég om ons Godgegewe lewe eie geregtig te beëindig nie.

MAAR DAT SELFMOORD N DOODSONDE IS, IS DOODGEWOON ONSIN!

In die Katolieke geloof is dit belangrik dat, voordat iemand sterf, daardie persoon eers vergiffenis van sonde moet ontvang. Ons sien gereeld hoedat die familie eerste die Priester laat kom om aan die sterwende sy “laaste regte” (last rights) te bedien, vóórdat die persoon doodgaan. Aangesien selfmoord beteken dat so ’n  persoon nie belydenis van sy sonde kon doen voordat hy/sy selfmoord gepleeg het, beteken dit dat hy mét al sy sondes sterf en gevolglik vir die ewige verdoemenis bestem is.

In die Gereformeerde geloof glo ons aan die vergiffenis van sonde alleen deur die genade van ons Here Jesus Christus en nie deur ons goeie werke nie. Selfs belydenis van sonde sonder ware geloof in Jesus Christus, is bloot maar net lippediens. (Ef. 2: 8-9)

In Romeine 8: 37-39 sê Paulus dat niks ons kan skei van die liefde van God nie. Vanaf vers 38 staan daar: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Die belofte van 1 Joh. 5: 11-12,  “... God het ons die ewige lewe gegee en dié lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.” geld vir alle gelowiges en nie net vir dié wat hulle nié aan selfmoord skuldig gemaak het nie!  In Joh. 10: 28 staan daar: “Ek gee hulle die ewige lewe en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit My hand ruk nie.

Ons glo dat selfmoord wel n sonde is, maar dat dit verseker nie beteken dat ’n  kind van Christus, as gevolg daarvan, tot die ewige verdoemenis veroordeel sal word nie. Met ander woorde, die vraag is nie of 'n mens Hel toe sal gaan omdat hy selfmoord gepleeg het nie; die vraag is eerder of hy Hel toe sal gaan omdat hy/sy nie in Jesus Christus geglo het nie!

Gelukkig begin ons kerke deesdae meer aandag gee aan die psigopatalogie van selfmoord eerder as die moreel-etiese beoordeling daarvan.
In Joh. 5: 24 se Jesus: “Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word ...” Dit sluit natuurlik nie lastering teen die Heilige Gees in nie, want vêrder in dieselfde vers sê Jesus: “...maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie.”
Daar bestaan ook nie iets soos “groot” en “klein” sondes nie. Sonde bly sonde. Wat daar wel bestaan is vergeefbare en onvergeeflike sonde, met ander woorde sonde wat nie tot die dood lei nie en sonde wat wel tot die dood lei. Selfmoord, (per sé), is nie ’n  “doodsonde” nie!
In Joh. 5: 24 se Jesus: “Dit verseker ek julle: Wie luister na wat Ek sê en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.”  Wat ’n  versekering!

Wat se raad kan ons iemand gee wat aan depressie lei ? 

Ek sou sê die volgende:
Ø       Vermy eensaamheid. As dit nodig is forseer jouself (of die persoon wat depressief is) om in die geselskap van goeie vriende te wees.
Ø       Soek hulp! Praat met mense wat dieselfde pad as jy geloop het. Spreek ’n  spesialis; praat met jou dokter; praat met jou predikant; vertel jou familie hoe jy voel. Moet net nie stilbly nie!
Ø       Soek God se hulp en vertrou en gló wat Hy vir jou sê. Die Heilige Gees, daardie stil stem in jou binneste wat skreeu om gehoor te word, luister daarna en weet (en glo) dit is God wat met jou praat!
Ø       Gee jouself oor aan die beskerming van Jesus Christus. Raak “don’t care”! Tot nou toe kon jy op jou eie nie veel regkry nie, so hoekom vertrou jy dan nie maar op Jesus om jou te help nie!
Ø       Gee jou probleem onvoorwaardelik oor aan Jesus. Hy sal toesien dat jou probleme opgelos word!  Niks is vir God onmoontlik nie. Waar jou en my vermoëns ophou, daar begin God s’n.  Vir God is die onmoontlike, moontlik!
Ø       Begin solank om vir God dankie te sê dat Hy alreeds besig is om jou te help, al kan jy dit op hierdie stadium nog nie sien nie! 

Die goeie nuus is dat depressie nie on-oorkomelik of ongeneesbaar is nie! Wat dit ook al genoem word en van watter graad van ernstigheid dit ook al mag wees, depressie kan oorkom word!  Met die nodige ondersteuning, professionele behandeling en korrekte medikasie, hoef niemand onnodig daaronder te lei nie.

Onthou, God stel Homself en Sy totale heelal tot jou beskikking. Al wat jy moet doen, is om Hom op Sy woord te neem en vir Sy hulp te vrá. Hy sal dit nooit van jou weerhou nie!

God is in beheer van jou lewe – Jy sál gesond word – Jy sál weer die lewe geniet – Jy sál weer gelukkig wees! 


Eksodus – ʼn Logistieke wonderwerk




Eksodus – ʼn Logistieke wonderwerk

                                                                                                    Stes de Necker

Die uittog van die Israeliete uit Egipte, was sekerlik dié grootste logistieke wonderwerk in die geskiedenis van die mensdom.

Indien slegs 3 milj. mense die uittog meegemaak het, kan ons met behulp van ʼn paar eenvoudige berekeninge, die volgende bepaal:

  1. Om 3 milj. mense daagliks net van drinkwater te voorsien, (10 Liter per persoon) sou 30 milj. liter water per dag benodig word.
  2. Om soveel water na die woestyn aan te ry, sou ʼn trein met 492 tenkwaens, 4.5 kilometer lank, elke dag benodig word.
  3. Bereken teen 3 kwartels (200 g./eenh.) en 3 koppies manna (.022199 kg./koppie) per dag, per persoon, sou daar ten minste 9,000,000 (1800 ton) kwartels, (54,000 ton vir 1 maand) en 200 ton manna daagliks, benodig word.
  4. As die konvooi 2000 meter wyd sou wees (2 km.) sou dit 75 km. in lengte gewees het.
  5. As die konvooi glad nie sou stop nie, (aaneen sou loop) sou dit 19 uur geneem het om by  ʼn sekere punt verby te beweeg.
  6. Teen 360 vk. meter kampeer-ruimte per familie, sou daar ten minste 21,000 Hektaar (210 vk. kilometer) benodig word, om kamp te kon opslaan.
  7. Om die Rooisee in één nag te deurkruis (m.a.w. 12 uur), [die breedte van die Rooisee waar die kruising, volgens hierdie beredenering, plaasgevind het, is 20 kilometer] met ʼn konvooi wat teen 4 km. per uur beweeg, beteken dit dat, teen ʼn totaal van 10 vk. meter spasie per persoon en ʼn addisionele 300 vk. meter per familie, (om voorsiening te maak vir diere waens ens.) die  pad deur die see ten minste 4.5 kilometer wyd moes wees, sodat al die Israeliete (met hulle diere en waens) in één nag, deur die Rooisee kon trek.
  8. Altesaam 17 dae (400 uur) is spandeer op trek self, en die res op kamp tyd. M.a.w. ʼn tog wat 17 dae moes duur, het veertig jaar geduur.
  9. Daar kan waarskynlik nog baie meer soortgelyke berekenings gemaak word, maar die slotsom sal altyd dieselfde wees, en dit is: God het vir veertig jaar lank, dag en nag, die uittog gelei en op wonderbaarlike wyse in ál die behoeftes van die Israeliete (kos, klere, water, gesondheid, skuiling ens.)  voorsien.
  
Die uittog, op sigself,  was alreeds ʼn Goddelike wonderwerk!