DIE GODDELIKE DRIE EENHEID
Waar het die begrip ontstaan
Stes de Necker
Inleiding
Nêrens in die Bybel staan daar spesefiek dat
die Vader, Seun en Heilige Gees, ʼn Drie-eenheid is nie.
Sovêr bekend is die term “Drie-eenheid” die
eerste keer gebruik deur Tertullianus (150-225 n.C.), die sogenaamde vader
van die Latynse teologie, maar dit is eers in 350-450 n.C. in die Latynse
vertaling van die Bybel (Vulgaat) opgeneem, waarskynlik as gevolg van die St.
Jerome manuskripte van die Bybel. (Hy was onder andere ook verantwoordelik vir
die skryf van die Vulgaat) Dit was eers tydens die Eerste Ekumeniese Konsilie
van Nicéa (325 n.C.), wat die begrip van ʼn Goddelike Drie-eenheid,
amptelike teologiese beslag gekry het.
Antwoord 25 van die Heidelbergse Kategismus,
gee wel vir ons die antwoord op die vraag: “Terwyl daar maar tog net een, enige
Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige
Gees ?” (Antwoord: Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het dat
hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is), maar die
kategismus gee ongelukkig nie vir ons ʼn antwoord op die vraag, hoé, hierdie
drie onderskeie Persone as een enkelvoudige “eenheid” verstaan moet word nie!
Eenheid in
die Ou Testament
In Deuteronomium 6: 4 lees ons:
“Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.”
(“Sh’ma Yis’ra’eil Adonai Eloheinu Adonai echad.” [Echad – Hebreeuse woord
vir “een”] “Hear, Israel, the Lord is our God, the Lord is One.”)
Daar bestaan ʼn siening dat die Hebreeuse woord
“echad” in Deuteronomium 6: 4 na ʼn “saamgestelde eenheid” (composite or compound
unity) verwys en gevolglik kan die Drie-enigheid van God op hierdie wyse bewys
word.
ʼn Saamgestelde eenheid het ʼn
pluralistiese betekenis wat beteken dat die geheel uit ʼn verskeidenheid
afsonderlik identifiseerbare komponente bestaan wat gesamentlik ʼn eenheid vorm,
bv. een tros druiwe. Een druiwe-korrel verwys nie na die tros nie, en net so
verwys die woord tros nie net na een druiwe-korrel nie.
Eenheid in
die Nuwe Testament
Die Heidelbergse Kategismus verwys egter na
ʼn enkelvoudige eenheid in vraag 25 as dit sê “Terwyl daar maar tog
net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die
Vader, Seun en Heilige Gees ?”
Terwyl dit waar is dat die woord “echad” na ʼn
saamgestelde eenheid kán verwys, (net soos wat die woord “een” in Afrikaans of
“one” in Engels ook na ʼn saamgestelde eenheid kan verwys), bestaan daar geen
bewyse vir die siening dat die woord “echad” soos gebruik in Deuteronomium, na
ʼn saamgestelde eenheid verwys nie.
Die laaste persoon in die Drie-eenheid is die
Heilige Gees.
Volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis is
die Heilige gees, net soos God en Jesus, deel van die Drie-eenheid. In Artikel
11 staan daar: Ons glo en bely ook dat die Heilige Gees van ewigheid van die
Vader en die Seun uitgaan; dat Hy nie gemaak of geskep of gebore is nie maar
van albei slegs uitgaan; dat Hy in orde die derde Persoon in die Drie-eenheid
is; dat Hy van een en dieselfde wese, majesteit en heerlikheid as die Vader en
die Seun is; dat Hy inderdaad ware en ewige God is, soos die Heilige Skrif ons
leer.
Terwyl ons dus glo dat God Drie-eenig is, bely
ons terselfdertyd dat Jesus opgevaar het na die Hemel, “en sit aan die
regterhand van God” ….? Hoe verduidelik ons aan ʼn jongmens, of ʼn
nie-christen, hierdie ooglopende paradoks?
Waar het
die belydenis van ʼn Goddelike Drie-eenheid ontstaan
In die Nederlandse Geloofsbelydenis staan daar
in Artikel 9: “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord
en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die
aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.”
Hierdie belydenis was hoofsaaklik geskoei op 1
Joh. 5: 7-8 van die Nederlandse State Bybel (1637) : (7) “Want
drie zijn er, die getuigen in den hemel, de Vader, het woord, en de Heilige
Geest; en deze drie zijn een. (8) En drie zijn er, die getuigen
op de aarde, de Geest, en het water, en het bloed; en die drie zijn tot een.”
Ons vind ook dieselfde bewoording in die King
James Bybel, (1 John 5 :7-8) : (7) ”For there are three that bear
record in heaven, the Father, the Word, and the Holy Ghost: and these three are
one.” en (8) “And there are three that bear witness on earth, the
spirit, and the water, and the blood: and these Three agree in one.”
Terwyl dieselfde bewoording ook in die ou
vertaling van die Afrikaanse Bybel (1953) voorkom, staan daar egter in die nuwe
vertaling van die Afrikaanse Bybel (1983): (7)“Daar is dus drie wat
getuig: (8)die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis
stem ooreen.”
In die ou vertalings, was vers 7 van 1 Joh. 5,
een van die belangrike verse van die Bybel aangesien dit die enigste vers in
die Bybel was op grond waarvan die bestaan van die Goddelike Drie-eenheid,
teologies beslag gekry het.
Die verwysing na die drie “getuies in die
hemel”, verskyn egter ook nie in enige van die oorspronklike manuskripte van
die Griekse Bybel (Vulgaat) nie. Volgens Bybelse historici is hierdie gedeelte
moontlik bygevoeg in die Latynse manuskripte van St. Jerome in die
jare 350-450 n.C.
Dit was hoofsaaklik as gevolg van hierdie
dwaling dat die Heidelbergse Kategismus in vraag 25, vra: “Terwyl daar maar tog
net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader,
Seun en Heilige Gees ?” en dan antwoord: “Omdat God Hom so in sy Woord
geopenbaar het dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God
is.”
Die weglating van “en hierdie drie is een” in
vers 7 van 1 Joh. 5 in die nuwe vertaling van die Afrikaanse Bybel is,
histories, die mees korrekte weergawe van wat die apostel Johannes oorspronklik
in 1 Joh. 5: 7 geskryf het.
Die historiese dwaling rondom vers 7 van 1
Joh, 5. maak egter nie ons belydenis en geloof in die Goddelike 'Drie-eenheid' vals nie.
Die vraag ontstaan bloot of dit nie miskien meer korrek sou wees om van n 'Drie-ledige' Godheid te praat nie?
Daar bestaan immers voldoende verwysings in die Bybel dat die Godheid 'Drie-ledig' is:
Joh. 1: 1 en 14: (1) “In die begin
was die Woord daar en die Woord was by God en die Woord was God
self.” (14) “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.”
Hand. 2: 17 “Ek sal my Gees uitstort op alle
mense.”
Fil. 2: 6 “Hy wat in die gestalte van God
was...” het aan mense gelyk geword.
Jes. 42: 1 “Hier is My dienaar, Ek stel hom
aan. Ek laat my Gees op hom kom ...’
Die mens as beelddraers van God
Is dit moontlik dat ons die “Beeld-draers van
God” is vanweë die feit dat daar nie nog ʼn maaksel soos ons bestaan wat op
enige wyse, enige ooreenstemming of gelykenis met die “Beeld” van God het nie,
of is ons, soos wat die Afrikaanse verklarende Bybel sê: Die mens
verteenwoordig God, letterlik soos ʼn beeld of afbeelding van Hom, hier op
aarde.
In die antieke Romeinse tyd het die Keiser
dikwels standbeelde van homself in die afgeleë gebiede van die Romeinse Ryk
laat oprig om die bevolking daaraan te herinner dat hy die keiser is; die een
wat regeer. Dit is teen hierdie agtergrond dat die Afrikaanse verklarende Bybel
sê dat, net soos die beeld van iemand gegeld het as sy verteenwoordiger (alter
ego) in ʼn sekere gebied, net so verteenwoordig die mens God, as Heerser oor die
skepping.
Alhoewel die Pentateug geskryf is tydens die
ballingskap, nagenoeg 550 jaar voor Christus, het die skrywers van die Pentateug
in werklikheid net die mondelings oorgedraagde geskiedenis, te boek
gestel. Die grootste gedeelte van hierdie teboekstelling, was die
kopiëring of óórskryf, van die Tien Gebooie en die Mosaïese wette, wat nóg ʼn
verdere 900 jaar voor die ballingskap reeds beskryf is.
Hierdie wette was, onder andere, baie
spesifiek en verbiedend oor die maak, bestaan en gebruik van enige
beelde.
(1) Eks. 20:4 ”Jy mag nie vir jou ʼn
beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde
hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of
dien nie ….” en in:
(2) Deut. 7: 25 “…. die afgodsbeelde is
afskuwelike goed in die oë van die Here jou God.” en in:
(3) Lev. 18: 3 “Julle mag nie maak soos
die Egiptenaars by wie julle gewoon het, of soos die Kanaäniete na wie se land
toe Ek julle bring nie. Julle mag hulle gebruike nie navolg nie.” en verder in
Lev. 20: 23 “Julle mag nie die gebruike van die nasies wat ek voor julle gaan
uitdryf, navolg nie.”
Dit is gevolglik uiters onwaarskynlik dat, toe
die skrywers van Genesis in Gen. 1: 27 geskryf het : ”God het die mens geskep
as Sy verteenwoordiger, as beeld van God … ” hulle daarmee bedoel het
dat die mens, God letterlik (soos ʼn standbeeld van die keiser) op aarde moet
verteenwoordig. Dit sou in werklikheid beteken dat hierdie skrywers ʼn suiwer
heidense gebruik, wat allerweë deur die wet van Moses en die Tien Gebooie
verbied was, in die Ou Testament sou invoer.
Die King James vertaling van Gen. 1: 27 lees:
“So God created man in his own image, in the image of God created he him; male
and female created he them.”
Die begrip “verteenwoordiger”, as sinoniem met
die woord beeld of standbeeld, kom nêrens in die Engelse of die Hebreeuse
tekste van Gen. 1: 27 voor nie.
Die Hebreeuse woord vir “beeld” (image) wat in
Gen. 1:27 gebruik word is tselem (צלם) wat beteken “skaduwee” of
“afbeelding”. M.a.w. dit beteken nie dat ons soos God lýk nie, maar dat
ons ʼn skaduwee van die aard en wese van die Godheid is. (Gen. 3: 22 “Die mens
het nou soos een van Ons geword …” )
In 1 Kor. 3: 16 sê Paulus: “Weet julle nie dat
julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?” en
verder in 1 Kor. 6: 19 “Of besef julle nie dat julle liggaam ʼn tempel van
die Heilige Gees is nie?”
Die Tempel het ook uit drie dele
bestaan: die Voorhof, die Heilige en die Allerheiligste. Die voorhof was die
enigste gedeelte waar die gewone mense kon ingaan.
Die Heilige en Allerheiligste gedeeltes van
die tempel was nie vir die gewone mens toeganklik nie en was van die Voorhof
geskei deur die “voorhangsel”. Net die priesters kon in die Heilige gedeelte
binnegaan en slegs die Hoë-priester kon net één maal per jaar, op
versoeningsdag (Yom Kippur), die Allerheiligste binnegaan.
Met Jesus se versoenings-dood skeur die
voorhangsel in twee, en kry die mens toegang tot God (die Heilige en
Allerheiligste) deur Jesus Christus.
Indien ons die Bybel se beskrywing van “na die
beeld van God” eerder sien as die figuratiewe ooreenkoms met die Drie-enige
aard van die Godheid, (die “beeld” van God) dan kry die versinnebeelding van
die mens, as beeld-draer van hierdie Goddelike Drie-eenheid, vir ons ʼn totaal
nuwe betekenis.
Na Sy opstanding het Jesus nog steeds op die
aarde vertoef sodat Hy homself aan Sy dissipels en geliefdes kon openbaar
as opgestane Heiland, maar nou met ʼn verheerlikte liggaam, en dit was
in hierdie verheerlikte vorm wat Jesus ook opgevaar Hemel toe. Ons glo dat die
mens ook sal opstaan in ʼn verheerlikte liggaam, waarin die siel en die Gees van
God nog altyd sal wees.
In Matt. 10: 28 skryf die apostel: “Moenie
bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel
nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as
die siel in die hel kan laat vergaan.”
Dit bring ons terug by Gen. 3: 22
naamlik, “Die mens het nou soos een van Ons geword ….”, en dan bied
die Ou Testament vir ons, weereens, daardie ryke agtergrond waarteen ons die
inhoud en betekenis van die Nuwe Testament, soveel meer sinvol en prakties kan
verstaan.
“Het algemeen geloof nu is, dat wij één God in
de drieheid en de drieheid in de eenheid aanbidden, zonder de Personen te
vermengen of het Wezen te delen.” en dan verder in paragraaf 35: “Want zoals
een redelijke ziel met het lichaam één mens is, zo is ook God en mens (Jesus in
Sy menslike voorkoms) één Christus.” (Gedeelte tussen hakies eie
byvoeging.)
Sou graag meer opinies wou hoor.....
Sou graag meer opinies wou hoor.....